Is jy dalk die groot Kokkedoor?

Foto2


Vra jy uit oor die kos wat jou hart net soveel as jou smaakkliere raak, kan jy maar weet ons Suid-Afrikaanse spyskaart lewer ‘n trefferlys soos min op. Vir een is dit kaiings en gebakte eier of vir ‘n ander is suurdeegbrood met nastergalkonfyt die ware koningskos; so ook skaapboud en soetwortels (die wortels gekook saam met ‘n jong vyeblaar); bonesop met blokkies varkvet wat bo-op dryf… Gemmer-stoompoeding en mieliepap laat geharde stadsjapies plaas toe verlang, so dat jy skape blêrrend in die skemeraand kraal toe hoor stap.

Om oor onthoukos te praat is ‘n intieme storie; ‘n verhoudingsaak. Wanneer een groep oor hierdie kos praat, word hulle so week soos baba-hondjies. Daar word verlang na oumas en nonnas en tant Alies en ant Toeks. Ander weet weer onthoukos val nie uit die lug nie: iemand moet dit maak.

Hulle weet onthoukos vra geduld, soos groenboontjiebredie met aartappeltjies; soms ‘n stukkie skaapvleis en altyd met witpeper – dis kos wat tyd vra om deur te kook tot ‘n lieflike moeserigheid. Jy maak dit nie gou-gou tussen die sepie en die sewe-uur nuus nie!

En in 2013 is kykNET op soek na Suid-Afrika se bobaas onthoukos-kokke – of te wel, ons heel eerste KOKKEDORE.

KOKKEDOOR is ‘n splinternuwe 13 episode realiteits- kookkompetisie waar ons gaan lang arm en basaar hou, skoustalletjies pak en biltong maak, poedings bak en padkos pak en brood knie en koek bak! Alles met die doel om die heel beste kokke in Suid-Afrika op te spoor, wat nie net kan kook met herinnering en nostalgie nie, maar ook ons diepste verlange en hartskos só kan aanbied dat ons dit met trots die een-en-twintigste eeu wil indra en aanhou maak!

Vir 13 episodes gaan die land se beste kokke dit uitspook in een van ons blinkste plattelandse Karoodorpies: Prins Albert. En aan die einde wag daar groot kontant, kookboeke en sommer baie ander pryse – maar bo alles, die titel van kykNET KOKKEDOOR!

Die beste nuus is dat ons op soek is na enigiemand. Of jy nou kook uit hart en siel, of met kreatief gekweekte flair. Of jy groen van ondervinding is, of jare lank reeds die sjefmes swaai. Almal kan inskryf – jonk en oud, self geleer of hoogs opgelei – dit maak nie saak nie, solank jy net kan kosmaak dat die biesies bewe en die monde water!

Ons het twee hoofbeoordelaars in elke kamp: Hetta van Deventer-Teblanche, kosgeskiedkundige en sjef van faam – aan die kant van die tradisionele kokke, en dan is daar sjef Nic van Wyk, bekroonde sjef en restaurateur, wat sal omsien na die deelnemers met baie ondervinding en opleiding. Hetta en Nic sal elk hul eie groep van 10 finaliste kies wat sal deurdring tot in Prins Albert en dinge daar sal uitkook!

Al wat jy hoef te doen is om vir ons in minimum van 600 en maksimum van 1000 woorde te vertel hoekom jy die een is vir kykNET KOKKEDOOR, dan vir ons ‘n Sondag middagmaal se spyskaart saam te stel, en ook ‘n kiekie van jouself te stuur. Die res, word dalk alles geskiedenis…

Kliek hier en laai nou die inskrywingsvorm af en stuur dit so gou as moontlik na: kokkedoor@mnet.co.za.

Of pos al jou inligting na:

kykNET Kokkedoor
Postnet Suite 248
Priaatsak X1
Vlaeberg
8018

Vir enige verdere navrae skakel gerus vir Paul Venter (Homebrew Films) by 021 422 3452.

Kliek hier vir algemene vrae en antwoorde.

Kliek hier vir die bepalings en voorwaardes.