Laan se Donnalee trou kaalvoet

donnalee


OP HAAR troudag wou sy meer as ooit God se hand in hul lewe voel – selfs “God onder ons voete” wou sy beleef. En toe Donnalee Roberts kaalvoet oor die Weskus-sand die paadjie na haar bruidegom afstap, is dié wens vir haar droomdag bewaarheid.

En ja, selfs toe die Weskus-wind stormsterk oor Yzerfontein se strand begin waai terwyl sy aan pa Llewellyn se arm tot voor die kansel stap waar Gerber Strydom met trane in sy oë op haar wag, het ʼn stralende Donnalee (26) die positiewe raakgesien.

Vir die aktrise wat ons as die skaam Anneli in 7de Laan ken, het dit gevoel asof “God sy seën met hierdie miljoene en miljoene sandkorreltjies oor ons laat waai”.

“Gerber, ek het jou van God afgebid. Jy is alles wat ek van ’n man gevra het,” het sy in haar troubeloftes vir hom gesê.

“Sjoe, weet julle hoe erg is dit dat ek haar nie nou mag soen nie!” het Gerber geantwoord voor hy syne vir haar gelees het. Daardie lieflike glimlag op haar gesig wil hy daar hou, en hy gaan haar altyd liefhê, het hy belowe.

Eers toe het die kaalvoetdominee toestemming gegee vir die soen – en wat ’n soen was dit nie!

Net soos Gerber en sy Don, soos hy haar noem, net so sonder enige aansitterigheid en fieterjasies was hul Weskus-troue. Albei is versot op die natuur en het altyd van ’n strandtroue gedroom. En Donnalee het Yzerfontein toe op die internet ontdek en haar hart verloor, al was sy en Gerber (24) nog nooit vantevore daar nie.

Sien al die foto’s en lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 11 November 2010