Rob Louw se wonderwerk

roblouw0


Om te hoor jy het dodelike kanker in die ergste graad sal die meeste mense se wêreld onderstebo keer… maar nie as jou naam Rob Louw is nie.

Die gewilde Springbokflank van die 80’s het nie net die grootste toets van sy lewe deurstaan nie – dit het hom ook met nuwe oë na sy lewe laat kyk. “Kanker het ’n hele nuwe wêreld vir my oopgemaak,’’ vertel Rob (54).

Vier maande gelede het hy gehoor hy het aggressiewe metastatiese melanoom. Dit het toe reeds na sy galblaas, lewer en dunderm versprei en dokters het nie gedink hy het langer as vyf maande oor om te leef nie.

Maar hier in sy huis in Durbanville buite Kaapstad is dit die ene plesierigheid ná die skok en angs wat hy en sy vrou, Azille, en hul vier kinders moes deurmaak. Met sy daaglikse beker groentee in die hand, kan Rob nie uitgepraat raak oor die ontdekkingsreis waarop kanker hom geplaas het nie.

Hy lag. “Ek het my so ingeleef en opgelees oor kanker dat dit voel asof ek self al amper ’n onkoloog is,’’ sê hy. “Ek is skoon, asof ek deur ’n reuse wasgoedmasjien gewas is,’’ voeg hy vrolik by.

Hy het kort ná Kersfees teruggekeer uit Amerika waar hy behandeling ontvang het. Danksy sy jare lange vriend die sakemagnaat Johann Rupert kon hy na die wêreld se beste kankerhospitaal in Houston gaan, waar hy T-sel-terapie sou ontvang, ’n splinternuwe tegniek om kankerselle dood te maak.

Lees meer oor Rob Louw se kankerstryd in die Huisgenoot van 28 Januarie 2010.

Het jy kanker oorwin? Vertel vir ons jou storie in die kommentaarveld hieronder.