Baba-benodighede: Alles wat jy móét hê, en wat jy kan los

Foto: Pacimals (via Flickr)

Foto: Pacimals (via Flickr)



Die ouerskapkenner Meg Faure het ’n nuttige lys saamgestel van dinge wat nuwe ouers eenvoudig baie gaan gebruik, en dinge wat net jou geld opvreet.

Wanneer ’n mens ’n ma of pa word, kry jy raad vanuit alle oorde – van die apteker, jou skoonma en jou beste vriende, tot die media.

Advertensies en advertensie-artikels beweer almal dat die produk wat húlle adverteer, die enkele ding is waarsonder jy nie kan klaarkom nie. En dan pluk jy jou beursie uit en begin die geld verdwyn. Voor die baba nog sy eerste skree gegee het, is jy met bykans R10 000 se “goed” opgeskeep – van die broodnodige, soos doeke, tot die absurde . . . ’n neus-uitsuiger!

As ma van drie en ’n babasorg-kenner, gee ek my vyf móét-hê-produkte, vyf lekker-om-te-hê-artikels en ’n paar goed wat jy nooit gaan nodig kry nie.

Moet-hê

  • Karstoeltjie – Dit is ’n veiligheidsvereiste, nie ’n luukse nie. Niks maak my so kwaad soos om ’n baba of kleuter op ’n ouer se skoot in die kar te sien nie. Of, nog erger, nie eens vasgegordel nie.
  • Toedraaikombersie – Só ’n kombersie waarin jy die baba styf kan toedraai, help baie in die eerste weke ná die baba se geboorte baba (0-12 weke). Dit laat die baba langer slaap en minder huil.
  • Baba-dra-ding – Of dit nou ’n dra-doek of ’n buidel is, jy gaan ’n manier nodig hê om jou baba te sus terwyl jou hande steeds los is vir ander werk. Daar is verskeie ontwerpe en elkeen het hul gunsteling. Die belangrikste is net dat jy én jou baba daarvan hou, en dat dit veilig en maklik is om te gebruik.
  • Doeke van goeie gehalte – Super-absorberende doeke gaan jou nagte rustiger maak, want dit lei jou baba se urine weg van sy sagte velletjie en voorkom ’n vel-uitslag.
  • Fopspeen – Dis op my lys van móét-hê-dinge. Babas kan neulerig wees in die eerste dae en dit is ’n goeie manier om hulle te kalmeer.
Photo: Ben Sheperd (via Flickr)

Foto: Ben Sheperd (via Flickr)

 

Lekker om te hê

  • Elektroniese borspomp – Dit is regtig lekker om te hê en as dit nie so duur was nie, was dit op my moet hê-lysie. ’n Borspomp is nie net lekker vir as jy moet werk toe gaan en jou baba tuisbly nie, maar ook as jy sukkel met jou melkproduksie.
  • Stootwaentjie – Nie so nodig nie, maar beslis lekker om te hê. Dit help om die baba te vervoer, veral as jy in die stad woon.
  • Moeselienlappe – dié oorgroot komberse is fantasties in ons warm klimaat.
  • Steriliseerder – Sterilisering is eintlik net baie nodig in die eerste paar dae. Sodra jou baba kan rondbeweeg, is dit nie meer nodig nie. Ek sou ’n goedkoper opsie kies, of ’n skottelgoedwasser inspan (die stoomdeel van die siklus is warm genoeg om kieme dood te maak).
  • Slaapsak – Dit is lekker om baba saans warm te hou. Dalk het jy ekstra geld of ’n goeie vriendin wat een as ’n geskenk kan gee.

Geldmors

  • Loopring – Dit is nie net ’n mors van geld nie, dit belemmer jou baba se ontwikkeling.
  • Baba-sonbrille – Het jy al ’n sonbril op ’n baba se kop probeer hou? Ek het nog nooit gesien dat dit werk nie.
  • Neus-uitsuiger – Ek het reeds genoem dat ek dink dit is een van die vreemdste gedoentes. Miskien het ek dit nie reg gebruik nie of was die idee daaraan net te erg vir my. Hoe dit ook al sy, vir my kinders het neussproei beter gewerk.
  • ’n Lappie-verwarmer – Dit klink na ’n goeie idee – in plaas daarvan dat jy jou baba se boude met ’n koue lappie afvee, maak dié ding die lappies eers warm. Maar ek dink regtig jy kan jou geld beter benut.
  • Ontwerpersbabaklere – Moenie in die versoeking gelei word nie. Jou baba gaan daardie handelsnaam-trui drie keer dra voor hy dit ontgroei.

Meg small – Meg Faure

 

As jy meer wil weet van babas, woon Meg Faure se kursus oor ouerskap by. Dit sluit raad in oor watter produkte om te koop. Baby Essentials word in Oktober by die Wellness Warehouse in Kloofstraat in Kaapstad aangebied. Bel 021-462-1508 vir besprekings.

Meg is ’n arbeidsterapeut met ’n belangstelling in babas, veral die wat ekstra moeilik is of sukkel om te slaap. Sy het die Baby Sense-handelsmerk in 2005 begin en is die eienaar van die maatskappy met dieselfde naam, waarvoor sy innoverende babaprodukte ontwerp.
Meg is ook medeskrywer van dié topverkopers:  Baby Sense (uitgegee in 2002
, nuwe uitgawe in 2010) en Sleep Sense (uitgegee in 2007) saam met suster Ann Richardson. Sy het Feeding Sense (uitgegee in 2010) saam met die dieetkundiges Kath Megaw en dr. Simon Strachan geskryf, en haar vierde boek, Your Sensory Baby, is in Mei 2011 uitgegee.

Meg het ook ’n versameling Baby Sense-produkte ontwerp na aanleiding van die Sensible Sensory Parenting-beginsels wat in haar boeke bespreek word.