Groter borste uit ’n buisie, ontrimpeling uit ’n pen

Ons skoonheidsblogger deel haar gunsteling- nuwe skoonheidsprodukte.

Productsd

WONDER jy wat nuut is in die winkels se skoonheidsgangetjies? Ek het verlede week die geleentheid gehad om met ’n klomp opwindende nuwe produkte te speel, waarvan die heel interessantste Nip + Fab was.

Dis geskep deur die medestigter van die Britse kultus-handelsmerk Rodial en is pas in SA bekend gestel. Jy kan dit net by Clicks koop. Die skoonheidswêreld gons daaroor omdat dit groot beloftes maak – een daarvan is Bust Fix, ’n “borsvergroting in ’n buisie” wat beloof om jou borste ’n nommer groter te maak. Sjoe! Die prys is ook aan die groot kant: sowat R1 000.Bust Fix

My borste is gelukkig ’n vrolike C en ek gaan dit dus nie beproef nie, maar ek was baie beïndruk met Nip + Fix se Frown Fix Instant Line Filler (R234,99).Nip Fab Frown FixFrown Fix vul plooitjies tydelik in om hulle minder sigbaar te maak. Al verwys die naam na voorkopplooie, kan jy dit op omtrent enige plek gebruik. Toe ek dit op die lyntjies langs my mond aangewend het, het hulle beslis “verdwyn”.

Uiteraard is die uitwerking tydelik en vervaag dit namate die dag verbygaan, maar om beter te lyk is om beter te lyk! Dis ook maklik om die pen in jou handsak rond te dra en jy kan dit dus maklik verfris.

Nog ’n Nip + Fab-juweeltjie is hul alfahidroksiesuur-produk Glycolic Fix-behandelingskussinkies (R264,99). Vee dit oor jou gesig om sagkens van ou, dooie vel ontslae te raak en varser, helderder vel bloot te lê. Dit bevat ook hialuronsuur wat plooitjies effens opplomp en bloumadelief-ekstrak wat die vel streel.

Nip Fab Glycolic Fix pads

Nog goeie nuus? Kérastase het onlangs hul eie reeks haute couture-stileerprodukte bekendgestel. Die naam van die reeks is K en Kate Moss is die gesig daarvan.
MAIN Kate Moss for Kerastase

Die versameling bestaan uit twee reekse: ’n turkoois ontwerpersreeks met produkte wat jou hare voorberei soos mousse’e en jels wat die haarwortels lig. Dan is daar ’n reeks afronders met produkte wat jou hare afwerk, soos serums en haarsproeie.

Twee ernstige pluspunte? Alles in hierdie versameling bevat hittebeskerming en hulle spog almal met ’n heerlike skoon geur wat nie met jou parfuum sal meeding nie.

Van die produkte wat ek tot dusver beproef het, hou ek die meeste van K Touche Finale Supershine Polishing Serum (R260, uitgesoekte salonne).
Dit moet eintlik aan droë hare gewend word om kroesies vas te vat, maar ek het ’n paar druppels tussen my palms gevryf en dit oor die lengte van my hare gestryk terwyl dit nog nat was. Ná ’n droogblaas voel my ragfyn hare soos sy sonder dat dit enigsins swaar hang.

kerastase k serum
Laaste maar nie die minste nie: GOSH het pas hul nuwe BOOMBASTIC XXL Volume-maskara bekendgestel (R90, eksklusief by Edgars).
GOSH Boombastic mascara

Dit gee in alle eerlikheid nie soveel volume soos ek gedink het dit sou nie (komaan, met ’n naam soos Boombastic verwag ’n mens dinge), maar dit skep wel heerlike lang en sterk gedefinieerde wimpers danksy ’n korthaar-borseltjie. Ek het ook daarvan gehou dat dit pikgitswart is sodat jou wimpers duidelik uitstaan, en dit vorm glad nie klonte nie.

As jy vir ’n maklike alledaagse maskara soek, sal dit die ding doen. Net gister het iemand juis vir my gevra watter maskara ek aanhet en dis al bevestiging wat ek nodig gehad het. Dis ook nogal koel om “Dankie, man. Dis BOOMBASTIC, jô!” te skree terwyl jy gangsta rap-bewegings met jou hande maak!

- Leigh van den Berg

Leigh-135x90 Leigh van den Berg is ’n vryskut- mode-en-skoonheidskrywer van Kaapstad. Sy is gek oor meisie- en glinstergoed en is veral trots daarop dat sy jou parfuum 10 tree ver kan uitken. Niks maak haar meer opgewonde as nuwe skoonheidsgoetertjies nie, behalwe miskien sjampanjedrankies, klapperlekkers en daai ou wat Dean in Supernatural speel. Lees haar blog by Lipgloss is my Life en volg haar op Twitter @lipglossgirl 

Lees Leigh se vorige blogs vir Huisgenoot by:

3 stappe na begeerlike bene

Lyk fantasties (al het jy ’n vieslike verkoue)

Tyd om te skitter

Die beste produkte wat ek onder oë gekry het