3×3: 30 dae teen verkragting

12


15 Februarie:

Wat kan gedoen word om ons land se skokkende verkragtingstatistiek te help verlaag? In die jongste uitgawe van Huisgenoot/YOU stel ons dié vraag. Kyk wat ons kenners sê.

Vir die volgende 30 dae sal ons elke dag drie maniere plaas om jou in die stryd teen verkragting in ons land te help bemagtig – van hoe om met jou kinders oor verkragting te praat tot wat om te doen as jy verkrag is.
Deel dit met drie of meer van jou Facebook-vriende elke keer as ons iets plaas. Help ons die verskil maak.
Deel met drie Facebook-vriende.

Statistiek: Slagoffers van verkragting is geneig om jonger vroue, van 16 tot 25 jaar oud, te wees, sê Statistiek Suid-Afrika.

16 Februarie:

Dinge wat jy nou kan doen in die stryd teen verkragting:

1. Petisie: Gaan na avaaz.org en klik op “Honour Anene Booysen”.
2. Word ’n vrywilliger: Volg ’n kursus van ses weke en skenk jou tyd aan slagoffers van verkragting. rapecrisis.org.za het nog inligting.
3. Skenk: Aan Childline SA, want hulle help kinderslagoffers van verkragting. Gaan na childlinesa.org.za vir die bankbesonderhede.

Statistiek: In 2012 is 175 verkragtings per dag in Suid-Afrika aangemeld, volgens ’n verslag van die Verenigde Nasies.

 

17: Februarie:

Algemene mites oor verkragting:

1. Mite: Jy sal waarskynlik in ’n vreemde steeg verkrag word deur ’n onbekende man.
Feit: 65% van verkragtings gebeur in ’n huis of op ’n afgeleë plek, volgens ’n plaaslike regeringsverslag, en word gepleeg deur iemand wat jy ken.
2. Mite: Vroue “vra daarvoor” deur die manier waarop hulle aantrek en optree.
Feit: Vroue, mans, meisies en seuns van alle ouderdomme, kulture, seksuele voorkeure, rasse en gelowe word elke dag wêreldwyd verkrag. Navorsing toon ’n groot diversiteit in dié wat in die visier gestel word.
3. Mite: Wanneer ’n vrou nee sê, bedoel sy ja.
Feit: Verkragting is vreesaanjaend, gewelddadig en vernederend vir ’n slagoffer. ’n Mens het die reg om in enige stadium van seksuele kontak van plan te verander oor seks hê.

Statistiek: 34,6 persent van Suid-Afrikaanse vroue is verkrag deur familielede of mans met wie hulle intiem was, toon ’n ondersoek deur die Mediese Navorsingsraad.

18 Februarie: 

Die eerste drie goed wat jy dadelik moet doen nadat jy verkrag is:

  1. Gaan so gou moontlik na ’n veilige plek.
  2. Sê vir die eerste mens wat jy sien en vertrou wat gebeur het. Die mens kan gevra word om jou storie in die hof te gaan ondersteun.
  3. As jy ernstig beseer is, gaan dadelik hospitaal of dokter toe. Hulle kan die polisie na die hospitaal ontbied as jy wil aanmeld wat met jou gebeur het.

Statistiek: Sowat een uit 30 Suid-Afrikaanse mans is al deur ’n man verkrag, toon ’n ondersoek deur die Mediese Navorsingsraad.

19 Februarie: 

Nuttige tolvrye nommers in die geval van verkragting:

  1. LifeLine: 0861-322-322 vir vertroulike berading oor verkragting en trauma.
  2. Stop Gender Abuse: 0800-150-150 vir raad met die ondersteuning van verkragtingslagoffers, insluitend regsadvies.
  3. Die polisie se kinderbeskermingseenhede: 08600-10111 vir die SA Polisiediens se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe.

Statistiek: Net een uit 25 vroue in Gauteng meld verkragting aan, volgens die Mediese Navorsingsraad.

20 Februarie:

Ondersteun iemand wat verkrag is. MOENIES:

  1. Moet hulle hoegenaamd nie vir die verkragting verkwalik nie, of hulle nou op ’n sekere manier aangetrek, gedrink of in ’n klub gekuier het. Niemand wil verkrag word nie.
  2. Moenie die oorlewende ignoreer nie, want hulle kan voel hulle word verwerp. Bel en gaan kuier, veral in die eerste paar weke ná die verkragting. Moedig hulle sagkens aan om met jou te praat en bied aan om takies vir hulle te verrig, byvoorbeeld rekeninge betaal of inkopies doen.
  3. Moenie ná ’n sekere tyd vir die oorlewende sê hulle moet “daaroor kom” nie. Elkeen het sy of haar eie helingstyd.

Bron: Reinette Evans van die Helderberg Rape Crisis Centre

Satistiek: 6– 72 uur: die tydperk waarin jy antiretrovirale middels moet kry nadat jy verkrag is, sê die Helderberg Rape Crisis Centre.

21 Februarie: 

Beskerm jou teen ’n aanval wanneer jy uitgaan:

  1. Moet nooit jou drankie onbewaak laat nie. Selfs wanneer iemand vir jou ’n drankie koop, neem dit direk by die kroegman. Gedokterde drankies kom algemeen voor by aanvalle.
  2. Wanneer jy saam met vriende uitgaan en gaan drink, sorg dat iemand altyd ’n oog oor jou sal hou en jou vergesel.
  3. Moenie laatnag alleen iewers heen gaan as jy dit kan verhelp nie. Sluit jou deure sodra jy in jou motor is en wees te alle tye bedag op jou omgewing.

Bron: Reinette Evans van die Helderberg Rape Crisis Centre

Statistiek: Ondersoeke toon net sowat 5% van mans is psigoties terwyl hulle ’n seksuele misdaad pleeg. Min veroordeelde verkragters word vir sielkundige behandeling verwys, volgens rapecrisis.org.uk.

22 Februarie:

’n Maat of kennis se gedrag wat kan dui op ’n naderende verkragting:

  1. Tekens dat hy aanspraak op seks met jou maak of aggressief raak en jou wense ignoreer. Gereelde, ongevraagde aanmerkings oor mense se liggaam en seksualiteit.
  2. Toon dikwels vyandigheid soos ’n kort humeur, jaloesie of verkwalik ander vir dit wat skeefloop.
  3. Hy aanvaar interpersoonlike geweld soos dreigende woede-uitbarstings keur geweld goed en regverdig dit.

Bron: Die boek Acquaintance Rape: The Hidden Crime

Statistiek: Driekwart van mans wat verkrag, doen dit voor 20 vir die eerste keer, volgens ’n verslag wat die Mediese Navorsingsraad in 2009 uitgereik het.

23 Februarie:

Deel met drie Facebook-vriende:

Hanteer ’n kind wat verkrag is so:

  1. Glo hulle. Kinders word dikwels om verskeie redes nie geglo nie, byvoorbeeld omdat di gesin die oortreder ken.
  2. Meld dadelik die verkragting aan by die polisie en ’n maatskaplike werker. Hou die kind weg van die oortreder af.
  3. Kry mediese hulp. ’n Mediese dokter en sielkundige moet die kind so gou moontlik behandel. Hulle verkies dalk om liewer met iemand professioneels te gesels omdat hulle hul ouers teen die traumatiese ervaring wil beskerm.

Bron: Kliniese sielkundige Carin-Lee Masters.

Statistiek: Daar is bevind in die meeste gevalle is vroue tydens ’n verkragting gedreig met ’n mes (68 persent) of vuurwapen (16,5 persent). Amper die helfte van die gevalle was in die slagoffer se huis, volgens ’n verslag in 2000 van Statistieke Suid-Afrika.

24 Februarie: 

Belangrike sielkundige stappe ná verkragting:

  1. Reik uit na en aanvaar ondersteuning van mense om jou wat jy vertrou. Dit sal ook help as jy jou gevoelens oor die verkragting daagliks in ’n dagboek neerskryf.
  2. Kry professionele sielkundige hulp, veral as jy simptome het van post-traumatiese stressindroom (dit sluit in steurende herinneringe, minder belangstelling in ander en die buitewêreld, slapeloosheid, prikkelbaarheid of woede-uitbarstings).
  3. Skep omstandighede wat jou veilig en weer in beheer laat voel, soos om ’n selfverdedigingskursus te deurloop en vind meer uit oor regs- en polisiebeskerming.

Bron: Kliniese sielkundige Carin-Lee Masters

Statistiek: Volgens ’n verslag in 2000 van Statistieke Suid-Afrika blyk dit meer verkragtings gebeur op Saterdae, veral tussen 19:00 en 1:00 vm voorkom.

25 Febraurie: 

Deel met drie Facebook-vriende:

Ouers en onderwysers, wees op die uitkyk vir dié voortdurende gedrag sodat jy seksuele mishandeling, verkragting inkluis, by kinders kan uitken.

1.            Was voorheen vriendelik en het mense vertrou, maar raak skielik senuagtig of aggressief teenoor volwassenes.

2.  Ooraktiewe belangstelling in seksualiteit en kan dalk seksuele gedrag teenoor ander kinders openbaar.

3. Geslagsiektes of verandering in reuk en uitskeiding van privaat dele. Wanneer kinders ouer word, kan hulle hul toevlug na alkohol of dwelms neem.

Bron: Childline

Statistiek: Meer as ’n derde van verkragtingslagoffers ontwikkel post-traumatiese stressindroom. As dit nie behandel word nie, kan dit lei tot depressie, selfdoodgedagtes en middelmisbruik, volgens ’n 2009-verslag deur die Mediese Navorsingsraad.

26 Februarie: 

Hoekom mediese hulp noodsaaklik is ná ’n verkragting:

  1. Vir die behandeling wat seksueel oordraagbare infeksies, onder meer MIV, verhoed. Dit sal net werk as dit binne 6 – 72 uur ná die verkragting toegepas word. Behandeling om swangerskap weens die verkragting te voorkom, is ook noodsaaklik.

2.            Beserings. Hoewel jy nie noodwendig op die oog af seergekry het nie, is daar dalk inwendige beserings.

3.            Bewyse. As jy besluit om ’n saak te open, is die dokter se verslag belangrik.

Bron: Rape Crisis, Kaapstad

Statistiek: Verkragting het in die boekjaar 2011-’12 met 1,9 persent afgeneem, maar dis nie genoeg nie en meer hulpbronne en beter opleiding vir die polisie word in werking gestel, volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS) se misdaadstatistieke.

27 Februarie: 

Deel met drie Facebook-vriende:

Keer so dat jy aangeval en moontlik verkrag word wanneer jy kuier:

  1. Bly bewus van wat om jou aangaan en hoe jy kan wegkom, indien nodig.
  2. Kry ’n kodewoord vir ’n vriend of familielid wat jy kan sê wanneer jy hulle bel tydens ’n situasie waarin seks op jou afgedwing word.
  3. Indien nodig, dink ’n rede uit hoekom jy moet gaan, en doen dit sodra jy ’n voorgevoel kry of ongemaklik raak.

Bron: US Rape, Abuse & Incest National Network – www.rainn.org

Statistiek: Die Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe (GKS) is in 2009 in Suid-Afrika hervestig. Van hul suksesse sluit in: In gevalle met kinders onder 18  jaar het die eenheid skuldigbevindings verseker wat gelei het tot altesaam 10 345 jaar tronkstraf vir die misdadigers. In dieselfde ouderdomsgroep het dit 175 gevalle van lewenslange tronkstraf vir die misdade verseker.

28 Februarie: 

Deel met drie Facebook-vriende:

Kyk na die interaktiewe, virtuele toer van die strafregstelsel wat in Engels, Afrikaans en Xhosa beskikbaar is. Sien:

  1. SA Polisiediens
  2. Gesondheidsfasiliteit
  3. Hof en beradingsgeriewe

Die webblad het ook raad oor hoe jy tydens ’n verkragting moet maak

Webtuiste: http://rapecrisis.org.za/virtual-tour-of-the-criminal-justice-system/

Statistiek: Van die oortreders het 46,3 persent gesê hulle het meer as een vrou of meisie verkrag, volgens ’n 2009-verslag van die Mediese Navorsingsraad

1 Maart: 

Deel met dire Facebook-vriende:

Doen dit as deel van die genesing ná ’n verkragting:

  1. Versorg jou liggaam – bad in growwe soute of eteriese olies soos laventel, roosmaryn of kamille. Dit sal jou help voel jy reinig en vertroetel jou liggaam.
  2. Moenie paniekbevange raak wanneer jy sukkel om te ontspan of te slaap nie. Daar is kruiegeneesmiddels vir angstigheid, depressie en spanning, byvoorbeeld Sint Janskruid, Rescue Remedy en Kava Kava. Jy kan ook diep-asemhaling-meditasie en ontspanningsoefeninge beproef (daar is baie inligting hieroor op die internet). As jou simptome nie weggaan nie of vererger, moet jy jou dokter vra vir medikasie wat jou sal help slaap en angstigheid en/of depressie oorkom. Of sluit aan by ’n oorlewingsgroep. Klop aan by Lifeline, People Opposing Women Abuse (POWA) of Rape Crisis vir nog inligting.
  3. Beoefen jou geloof/godsdiens en bring tyd in die natuur deur. Verkragting verander dikwels hoe jy voel oor dié goed, maar moedig jouself aan om na die plekke en mense te gaan wat jou geestelik voed.

Bron: Kliniese sielkundige Carin-Lee Masters

Statistiek: Gevra hoe oud hulle was toe hulle die eerste keer ’n vrou of meisie gedwing het om seks te hê, het 9,8 persent gesê hulle was jonger as 10 jaar, 16,4 persent was tussen 10 en 14 jaar,  46,5 persent was tussen 15 en 19 jaar, 18,6 persent was tussen 20 en 24 jaar, 6,9 persent was tussen 25 en 29 jaar en 1,9 persent was 30 of ouer. – 2009-verslag van die Mediese Navorsingsraad.

 2 Maart: 

Help ons die boodskap uitdra – Deel met drie Facebook-vriende:

Help beskerm jou teen verkragting in die huis.

1. Stel ’n stelsel in waarmee jy jou bure kan laat weet as jy in gevaar verkeer, soos om hul selfoon te laat lui of ’n SMS-kode sodat hulle die polisie kan bel as jy nie kan nie.

2.  Wanneer ’n indringer jou huis binnekom, maak of jy nie alleen is nie deur na iemand te roep. Sorg dat jy altyd jou sleutels reg het sodat jy die deur kan  oopsluit sodra jy tuiskom. As jy dink iemand hou jou dop, moenie jou huis binnegaan nie. Gaan na van die bure of ontbied hulp.

3. As ’n gesinslid of iemand anders in jou huis jou so nader dat dit jou ongemaklik maak, sê vir hulle en vertel ook dadelik vir iemand anders daarvan. Vertrou jou instink en moet jou nie bekommer dat jy “paranoïes” genoem sal word nie, want jou veiligheid kom eerste.

Bron: Rape Crisis Kaapstad se handleiding

Statistiek: 

Alle slagoffers van verkragting is besorg oor die moontlikheid van  MIV.  Die nasionale vigshulplyn (tolvry) wat in samewerking met die gesondheidsdepartement bestuur word, ontvang daagliks sowat 3 000 oproepe. Bel 0800-012-322 of gaan na aidshelpline.org.za vir nog inligting.

3 Maart:

Help ons die boodskap versprei –

Deel met drie Facebook-vriende:

Maak so as jy aangeval:

1. Probeer eers jou bes om van jou aanvaller los te kom en hardloop en skree om die aandag op jou te vestig.

2. As jy ’n mens met ’n aanvaller praat of probeer redeneer, verander hy soms van plan en los jou uit.

3. Skree, byt, skop, trek sy hare en val hom op ander maniere aan. Wanneer jy iemand probeer afweer, onthou die oë, ore, penis, skrotum, lies, nek en oksels is gevoelig, maar as jy in lewensgevaar verkeer, soos wanneer hy ’n vuurwapen het, word passiewe weerstand aanbeveel, want jou bakleiery kan maak dat hy jou verder skaad.

Bron: Rape Crisis Kaapstad se handboek Rape Crisis Cape Town handbook

Statistiek: Die syfers vir sake oor seksuele misdrywe (verkragting en onsedelike aanranding) is:

  • 2008/2009: 54 126
  • 2009/2010: 55 097
  • 2010/2011: 56 272

Bron: SAPD-verslag

4 Maart: 

Help ons die boodskap uitdra –

Deel met drie Facebook-vriende:

As die polisie nie jou aanranding- of verkragtingsaak doeltreffend behartig nie:

1. Kla in ’n brief by die hoof van die betrokke polisiekantoor. Sluit alle besonderhede in, soos die datum, name, plekke en tyd.

2. As jy nie ’n antwoord kry nie, nader die provinsiale.

3. As die saak nog nie aandag kry nie, nader die onafhanklike klagtedirektoraat (www.icd.gov.za of 012-399-0000). Dit is ’n staatsdepartement vir klagtes teen lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en Munisipale Polisiediens (MPD) te ondersoek.

Statistiek: Altesaam 60,5% van die seksuele misdrywe wat in 2008/2009 in SA aangeteken is, is teen kinders onder 15 jaar gepleeg. En by 29,4% van die seksuele misdrywe was daar kinders van 0-10 jaar betrokke. Bron: SAPD-verslag

5 Maart:

Help ons die boodskap uitdra – Deel met drie Facebook-vriende:

Bedwing so jou angs om weer met iemand uit te gaan nadat jy verkrag is:

1. Besluit wat jou sal laat veilig voel wanneer jy met iemand uitgaan. Reël byvoorbeeld net dubbelafsprake saam met ’n vertroude vriendin of gaan net bedags uit of na openbare geleenthede. Onthou, jou behoefte aan dié soort struktuur sal mettertyd afneem.

2. Dit is in die haak om perke te stel soos om vooraf te besluit hoe laat jy by die huis wil wees, hoeveel – indien enige –intimiteit aanvaarbaar is en of  jy drank gaan drink en hoeveel.

3. Bied alternatiewe aan waardeur jy kan wys jy stel tog belang. As jou metgesel ’n iets wil doen wat jou ongemaklik maak, sê nee deur iets anders voor te stel: “Nee, ek wil nie vanaand ’n bier gaan drink nie; hoekom kry ons mekaar nie môremiddag vir koffie nie?” of: “Nee, ek wil nie by jou woonstel kom aandete eet nie, kom ons gaan eet uit.” Namate die verhouding vorder, sal jy dalk oor die seksuele aanranding wil praat. Ons plaas môre meer hieroor.

Bron: Elna McIntosh, kliniese seksuoloog. www.safersex.co.za

Statistiek: Meer as 90 persent van kinderslagoffers van seksuele misbruik ken die skuldige op die een of ander manier, volgens ’n verslag van 2000 van die Amerikaanse departement van justisie.

6 Maart: 

Help ons die boodskap uidra –

Deel met drie Facebook-vriende: Praat so met jou seksmaat nadat jy seksueel aangerand is:

Jy moet voel jy beheer die hoeveel en soort seksuele kontak. Dié beheer kan gevestig word deur met jou maat oor jou gevoelens te praat, sê die kliniese seksuoloog Elna McIntosh. Klik op die skakel vir nog inligting hieroor.

As jy voel jou maat kan dit nie sonder aanstoot of druk doen nie, moet jy dalk eers werk maak van die vertroue en respek in jou verhouding.

Hier is ’n paar algemene reaksies en voorstelle oor hoe jy met jou maat kan praat.

1. Jy wil  geen liggaamlike kontak hê nie.

o Vertel jou maat van die gevoelens en stel ander maniere van saam wees voor wat wys jy gee om, soos etes kook, gaan stap en gaan fliek. Praat elke dag met jou maat oor wat jou pla en wat jou laat goed voel.

2. Jy wil nie seksuele kontak hê nie, maar wel ander soorte liggaamlike kontak.

Vertel vir jou maat van die gevoelens en stel ander liggaamlike interaksie voor: “Ek voel nie deesdae lus vir seks nie, maar ek wil graag liggaamlike kontak met jou hê. Ek voel gemaklik met masserings, drukkies, soene, hande vashou en styf langs jou sit terwyl ons TV kyk. Ek sal dit soms aanvoor en wil hê jy moet dit ook inisieer.” Ander aktiwiteite kan insluit saam bad, mekaar koester en mekaar masseer.

3. Seksuele kontak is in die haak, maar jy is versigtig, want jy weet nie hoe jy sal reageer nie. Sekere gedrag, aanraking, kyke en reuke kan tot vrees, angs en/of terugflitse (herinneringe aan die aanval) lei.

• Staak die seksuele aktiwiteit net wanneer jy wil, veral sodra jy angstig, paniekerig of bang voel. Party paartjies gebruike seine of tekens: ’n Drukkie op die regterskouer beteken byvoorbeeld “hou nou op; ek is bang”.

•  Voor jy met enige seksuele aktiwiteit begin, sê dalk vir jou maat: “Ek is dikwels onseker hoe ek tydens seks sal reageer;  daarom sal ek dalk wil ophou nadat ons begin het. Ek sal probeer om vir jou te sê wat ek liewer wil hê soos ’n ander soort aanraking of ’n ander posisie.”

• Skenk aandag aan wat jou gevoelens veroorsaak en stel iets anders voor: “Wanneer jy bo-op my lê, voel ek bang en kry ek terugflitse. Kan ek liewer langs jou lê terwyl ons omhels?” Moenie druk op jou plaas om seksueel te presteer nie.

Let wel: As seksuele kontak reg is met jou en spesifieke aktiwiteite jou nie bang maak nie, maar jy word bewus van vorige seksuele probleme wat jy geïgnoreer of vermy het, soos die afwesigheid van orgasme, pynlike omgang of gebrek aan begeerte, klop aan by ’n seksterapeut. Die terapeut kan julle met mekaar help gesels as dit jou verleë maak en jy sukkel om daaroor te praat.

Bron: Elna McIntosh, kliniese seksuoloog. www.safersex.co.za

Statistiek: Meer as een uit drie kinders van 11-17 jaar wat seksuele misbruik aan ’n volwassene se hand ervaar het, het niemand anders daarvan vertel nie, volgens ’n verslag deur die Britse nasionale vereniging vir die voorkoming van wreedheid teenoor kinders.

7 Maart:

Help ons die boodskap uitdra – Deel met drie Facebook-vriende:

Nog nuttige nommers in geval van misbruik of verkragting:

  1. SAPD 10111
  2. Childline: 0800 055 555

Vigshulplyn: 0800 012 3220

Statistiek: Slagoffers van seksuele aanranding is:

  • drie keer meer geneig om aan depressie te ly.
  • 13 keer meer geneig om drank te misbruik.
  • 26 keer meer geneig om dwelms te misbruik.
  • 4 keer meer geneig om selfdood te oorweeg.

Bron: www.rainn.org

8 Maart:

As jy ’n potensiële seksuele aanranding sien gebeur:

1. Wees reguit. As jy iemand sien vertrek saam met ’n potensiële slagoffer wat dronk of enigsins kwesbaar lyk, sal ’n direkte benadering wees om haar te nader en te sê: “Ek is bekommerd. Het jy ’n saamrygeleentheid nodig?”

2. Delegeer. As jy skrikkerig is vir die direkte benadering tot ’n potensieel gewelddadige situasie, spoor die potensiële slagoffer se vriende of familie op of ontbied die polisie. Moenie bang wees om dit te doen nie; jy red dalk iemand se lewe.

3. Afleiding. As jy byvoorbeeld op ’n partytjie is en iemand sien misbruik maak van iemand wat dronk is, trek die ou se aandag af deur te sê die polisie is by die deur en laat die potensiële slagoffer se vriend(inn)e haar help.

Bron: Die webtuiste vir die voorkoming van geweld livethegreendot.com.

Statistiek: Meer as die helfte van alle aangemelde gevalle van verkragting of seksuele aanranding  het binne 1,6 km van die slagoffer se huis gebeur. Bron: www.rainn.org

9 Maart: 

Word deel van ons veldtog teen verkragting  – Deel dié drie punte met minstens drie Facebook-vriende:

Het jy geweet?

  1. 6 – 72 uur: Dis die venstertydperk waarin jy antiretrovirale middels moet kry ná ’n verkragting, volgens die Helderberg Rape Crisis Centre.
  2. Driekwart van mans wat verkrag, pleeg dié misdaad die eerste keer voor die ouderdom van 20, volgens ’n verslag van die Mediese Navorsingsraad in 2009.
  3. Verkragting blyk gereelder op Saterdae te gebeur, veral tussen seweuur saans en eenuur soggens, volgens ’n verslag van 2000 van Statistieke Suid-Afrika.

Vir vorige Facebook-plasings in ons stryd teen verkragting en nog skokkende statistiek, besoek ons webtuiste:

http://huisgenoot.com/fokus/3×3-30-dae-teen-verkragting/

Statistiek: In die laaste boekjaar het die Suid-Afrikaanse Polisiediens se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe meer as 363 lewenslange vonnisse verkry, met ’n skuldigbevindingskoers van 73 persent vir misdade teen vroue bo 18 jaar en 70 persent vir misdade teen kinders onder 18 jaar.

10 Maart: 

Sluit aan by ons veldtog teen verkragting – Deel dié drie punte met minstens drie Facebook-vriende:

Dít kan gemeenskapsleiers doen om te help:

1.       Inligting (plakkate, pamflette) oor hoe jy moet maak nadat jy verkrag is of hoe jy dit kan voorkom, moet in byvoorbeeld klinieke, skole en dokters se spreekkamer en teen aansteekborde  in winkels beskikbaar wees. Dit moet oral in die gemeenskap wees sodat gemeenskapslede gedurig daaraan herinner word dat verkragting ’n ernstige misdaad is.

2.       Mense moet bewus gemaak word dat hulle ’n verkragting moet aanmeld om seker te maak die skuldige pleeg nie weer dié misdaad nie. Vrywilligers moet opgelei word sodat hulle slagoffers van verkragting kan ondersteun en help herstel.

3.       Geweld teen kinders en vroue kom meer voor in lande waar mans as verhewe bo vroue geag word en waar vroue onderdanig is. Daarom moet opvoeding daarop ingestel wees om mans en vroue meer gelyk te maak deur besprekings oor geslagsrolle van jongs af as deel van lewensoriënteringsprogramme in skole.

Bron: Marianne Strydom, Louis Vlok en Ilse Beukes, almal Universiteit Stellenbosch

Statistiek: Het jy geweet? Mans wat verkrag, toon groter aanvaarding van interpersoonlike geweld, volgens navorsing in Amerika

11 Maart: 

Word deel van ons veldtog teen verkragting  – Deel dié drie punte met minstens drie Facebook-vriende:

Dikwels word ’n verkragting nie aangemeld nie. Opnames wys daar is baie redes waarom mense ’n verkragting geheim hou, soos:

1.       Hulle is te verleë of skaam daaroor. Dit gebeur baie dikwels dat familie of vriende wat oor die verkragting ingelig is, die oorlewende laat voel hulle moet liewer stilbly daaroor. Die slagoffer en hul gesin ervaar dikwels intense skaamte en skuldgevoelens. Baie gesinne is geldelik afhanklik van die oortreder en word so gedwing om stil te bly sodat hulle nie honger ly of hulle blyplek verloor nie.

2.       Hulle dink die polisie sal hulle nie glo nie. Talle mites oor verkragting lei ook daartoe dat mense dit geheim hou, soos dat die oorlewende alleen in ’n kroeg was, ens.

3.       Die lae skuldigbevindingskoers vir verkragting.

Bron: Marianne Strydom, Louis Vlok en Ilse Beukes, almal Universiteit Stellenbosch

Statistiek: Het jy geweet? Mans wat verkrag, ervaar waarskynlik vroue as vyandig teenoor hulle en wantrou in die algemeen ’n vrou se toegeneentheid. Hulle ervaar dalk ook gevoelens van skaamte (veral oor seks) en ontoereikendheid en steek dit weg agter woede, wat dan die drang  skep om vroue te beheer, volgens Amerikaanse navorsing.