Afrikaanse sanger verloof aan sy liefling

IMG_4173


Die Afrikaanse sanger, skrywer en agterkleinkind van die voortrekkerleier met dieselfde naam, Andries Hendrik Potgieter, het pas verloofgeraak aan SABC-joernalis Sya van der Walt.

Na ‘n twee jaar verhouding het Andries ‘n baie spesiale en unieke verlowing beplan by Issabella’s-bakkery in Centurion.

Andries het als haarfyn beplan. Dis Saterdagmiddagskemer, in Sya se gunsteling-plek, daar is 24 kolwyntjies, elk uniek versier, elk met ‘n boodskap van ‘n spesiale oomblik saam gedurende die twee jaar.

Die 25ste boodskap is die verlowingskoek waar Andries op sy knieë neersak en die groot vraag vra.

Sya was weggeblaas en die emosies het hooggeloop.

“Hy is die liefde van my lewe en ek is liewer vir hom as ooit,” het Sya vertel.

“Ek was nogal senuweeagtig, maar is nou gelukkiger as ooit en verlig,” lag Andries.

Andries en Sya beplan om in September in Pretoria te trou.