FLIEK: Pretville

Use-Pretville


Ons dink: 3/5
Musiekblyspel
Met Marno van der Merwe, Annette Engelbrecht en Rina Nienaber
Regisseur: Linda Korsten
O
Begin op 23 November

Afrikaners is plesierig en dan dans hulle so! Dié jolige jare-50-uitstappie na ’n fiktiewe dorp waar almal kan sokkie en langarm, is die lekkerste plek waar jy jou somervakansie kan omjol. Nes in Grease voer musiek die botoon, want dis Machiel Roets se voeteterg-ritmes en flambojante musiek wat die toon aangee. Soos met Liefling skop die jong bulle hoog en swaai die meisies hul rokke dat jy moet koes.

Misverstande, tantes met donker motiewe, Brylcreem-kuiwe en jonges met meer testosteroon as verstand baljaar die stof uit die strate en vier die lekkerte van die lewe. Dis ’n hoogskop-ervaring wat bewys: Ons kan musiekprente maak wat baie beter as die 60’s s’n is. Die choreografie is lekker, al verflou die pret ná ’n onverwagte besoek waarvan die rolprent nie eintlik herstel nie.

Veterane soos Annette Engelbrecht steel die toneelspellouere voor nuwelinge soos Eugene Jensen weg, maar Marno van der Merwe wys hy is ’n talent om mee rekening te hou. Jammer Terence Bridgett oorspeel so. Wonderlike Kersvermaak.

– LEON VAN NIEROP