Hoekom jy Liefling móét gaan kyk

Bobby van Jaarsvel en Liza Brönner

Bobby van Jaarsvel en Liza Brönner



Bobby van Jaarsveld en Liza Brönner.

Die ding met ’n musiekblyspel is dit: Jy moet agterna goed voel, ’n deuntjie of twee moet in jou kop bly vassteek, die akteurs moet mooi wees (en as hulle kan dans, soveel te beter) – en iewers deur die loop van die produksie moet ’n toneel jou laat dink.

Gemeet aan dié kriteria, is Liefling, die Musiekblyspel in die Staatsteater vol in die kol.
1. Jy voel beslis agterna goed – vra maar die jillende teatergangers wat ná die spesiale Huisgenoot-voorvertoning lam in die knieë was oor Bobby van Jaarsveld. (Dit het gehelp dat hy in ’n stadium sy hemp uittrek en sy begeesterde solo Spieëltjie was ’n wenner.)
2. Daar is heelwat deuntjies wat in jou kop vassteek. Trouens, dis die soort klankbaan wat jy op repeat kan sit in jou motor. Van die reeds genoemde Spieëltjie tot die Gé Korsten-treffer Liefling – daar is eintlik te veel om op te noem.
3. Ja, die akteurs is mooi. Die nuwe Liefling, Liza Brönner, die wenner van die kykNET-werklikheidsreeks waarin die vervaardigers ’n plaasvervanger gesoek het vir Lika Berning, is tegelyk sexy, astrant en oulik op die onskuldigste manier. En liewe land, kan sy sing! En ja, die ensemble se danse is energiek en oortuigend. Die choreografie is pret en die ritmes aansteeklik. Lekker, man!
4. As jy die fliek gesien het waarop die musiekblyspel gegrond is, sal jy weet: Die versugting en verlange van Liefling in die koue Europa en Jan (Bobby van Jaarsveld) by die huis, sal aanklank vind by enigeen wat al iemand gemis het.

Dis ’n hoogs vermaaklike produksie met ’n sterk rolverdeling: Philip Moolman as die stuitige oupa Karel, Nadia Beukes (sy was ook ’n beoordelaar op die TV-program) as Jesse, Altus Theart as die onbeholpe Kobus en Eugene Jensen (van Pretville) as Gerrit – sterk akteurs wat die produksie oemf gee.

Maar as jy nie in hulle belangstel, of Bobby (is dit moontlik?) en Liza nie – gaan kyk na Marlee van der Merwe, wat haar rol as die oppervlakkige dofpoppie Melanie met soveel oortuiging vertolk, jy wil haar eintlik ná die tyd troos omdat sy so simpel is. Die grootste kopknik gaan aan haar. Sy het dit perfek reggekry in die fliek en sy maak weer so op die verhoog.
Beslis die kyk werd.

Liefling is tot 30 Junie in die Staatsteater in Pretoria te sien. Kry jou kaartjies by Computicket. Huisgenoot is ’n mediavennoot van die produksie.

- Wicus Pretorius

KLIK HIER vir ‘n fotogalery van die premiére van Liefling. 

lief2