Lianie May se Naweek Lyfie

Wie kan nou Bonnie en Clyde, die trefferlied- en -album van Jay en Lianie May, vergeet? En hier is nog goeie nuus vir aanhangers van dié sangers se duette – nog ’n treffer is op pad.

Naweek Lyfie is die eerste liedjie op Lianie se nuwe album, wat einde April uitgereik word. Die bobaas liedjieskrywers Johan Vorster en Christoph Kotze het hierdie lied neergepen. Die naam van haar album is nog nie bevestig nie.

Verfilming aan die musiekvideo vir Naweek Lyfie het gister by die antieke mynersdorpie in Kimberley begin. Lianie het op Facebook ’n voorsmakie gegee met dié foto van haar op ’n perd.

Lianie op 'n perd

Ons het met haar gesels.

Hoekom hou jy daarvan om saam met Jay te werk?

“Jay is ’n gemaklike, plat op die aarde mens en ons kan mekaar se siele uittrek. Ons het magic op die verhoog en ons stemme werk net saam. Hy is my sangmaat en vriend; dit maak dat aanhangers aanklank vind by ons as duetpaar.”

Watter geheime kan jy oor hom verklap?

“Jay kan arm druk! Ek het met my eie oë gesien, hy wen elke armdruk. Wanneer ons optree en daar is ’n armdrukkompetisie, wen hy. Eerlikwaar, ek weet nie hoe hy dit doen nie, want party manne teen wie hy arm druk is fris!”

Wat kan mense verwag van die lied Naweek Lyfie?

“Ek sien mense lekker dans en lekker kuier op die liedjie. D is ’n lekker upbeat liedjie met country en skop!”

Wat doen jy graag oor naweke?

“Naweke is ons werktye, maar wanneer ek by die huis is, gaan ry ek fiets of fliek ’n bietjie. Maar braaivleis en rugby loop ons nie mis nie!”

Wat kan mense van jou nuwe album verwag?

“Liedjies met lekker dansritme, liedjies wat met jou hart praat, soos ballades . . . Ek dink daar is ’n liedjie vir elkeen se smaak.”

Hoe gaan dit nog met jou en manlief, Barry?

“Baie, baie goed! Hy ondersteun my en ons werk lekker saam aan liedjies skryf en optredes verbeter. Hy durf die lang paaie saam met my aan, hy is ’n mensemens en het my lief en staan my altyd by! Hy is betrokke by alles, wat so belangrik is.”

Is daar ná Platteland nog enige flieks in die pyplyn?

“Ek hoop so! Ek het drama studeer en wil bitter graag weer in ’n fliek speel. Ek het baie idees en hoop om my eie idees te laat realiseer om ’n goeie, deeglike draaiboek te skryf. Ek het ’n draaiboekskrywer ontmoet. Ek glo: Keep on dreaming.