Kinkelkok 2014: Lindè Watson, 21

Linde-Watson-KK


Waar woon jy?

George.

Som jouself in drie woorde op.

Impulsief, sosiaal, gelukkig.

Hoe oud was jy toe jy begin kook en wat het jy berei?

Ek was drie toe ek saam met my ma beskuit gebak het.

Wat is die beste raad oor kook wat jy al gekry het?

Sjef Henrico Grobbelaar het my geleer om nooit te veel suur op ’n bord te sit nie.

Die Kokkedoor-beoordelaars laat weet onverwags hulle kom oor 30 minute by jou eet. Wat sal jy kook?

’n Paprika-en-knoffel-rösti bedek met beesfilet, roketblare, vye en balsemieke rooiuie, en ek sal ’n reduksie van vye en balsemieke asyn daaroor drup.

Watter van die eerste seisoen se deelnemers was jou gunsteling en hoekom?

Tiaan, want hy was nie bang om te eksperimenteer nie.

Vir watter bekende sal jy graag wil kook en hoekom?

Prinses Diana omdat sy ’n geweldige waardering gehad het vir wat ander doen en dit uitgewys het.

Wat dink jy is Suid-Afrika se gunsteling-onthoukos en hoekom?

Koeksisters. Daar is sekerlik nie ’n enkele Suid-Afrikaner wat nie weet wat dit is nie; dit bly maar lekker.