Gerolde varknek met uiemarmelade

Vrydag_varkrol

UIEMARMELADE
60 ml botter
6 uie, in skywe gesny
60 ml sagte bruinsuiker
60 ml balsemieke asyn
sout en vars gemaalde swartpeper

VULSEL

1 groot varknek (1,3 kg), ontbeen en gevlek
sout en vars gemaalde swartpeper
70 g jong spinasie
85 g bloukaas, gekrummel
100 g mozzarellakaas, gerasper
50 ml olyfolie

Voorverhit die oond tot 160 °C.

UIEMARMELADE 
Verhit die botter in ’n kastrol en braai die uie oor matige hitte tot sag.

Roer die bruinsuiker, balsemieke asyn, sout en peper by.

Verlaag die hitte en laat die marmelade ongeveer 20 – 30 minute liggies kook tot gekaramelliseer.

Laat dit afkoel.

VULSEL
Vou die gevlekte nek oop op ’n werkoppervlak en geur dit met sout en vars gemaalde swartpeper.

Versprei die spinasie oor die varknek, gevolg deur die marmelade, bloukaas en mozzarellakaas.

Rol die varknek toe en bind dit vas met tou.

Sit die gevulde nek in ’n gesmeerde oondbak, bedruip met olyfolie en bak 25 minute per elke 500 g plus 25 minute of tot gaar.

Sit dit voor saam met brosgebraaide aartappelwiggies.

Laat rus die snit 10 minute nadat dit gaargemaak is; dan is dit makliker om die vleis te sny.

WENK: Varknek het heelwat gemarmerde vet; daarom is dit van die geurigste en sappigste vleissnitte aan die varkkarkas. Vra jou slagter om die varknek te ontbeen en te vlek sodat jy dit maklik kan vul. Snitte ideaal vir hierdie resep is varknek of varklies.

Powered by Facebook Comments