5 wenke vir gimhasies

Oefen in gym


Oefengewiggies – leer hoe om dit te gebruik

Voor jy met gewigte begin oefen, maak seker jy kan elke oefening met die regte tegniek uitvoer. Die onbehoorlike gebruik van gewigte of masjiene kan beserings veroorsaak. Dit kan of akuut wees (jy sal dit dadelik voel) of ’n chroniese besering wees (simptome is subtieler en dit duur langer voor dit jou pla). Die verkeerde tegnieke kan ook die ondoeltreffende gebruik van die teikenspiere veroorsaak sodat jy nie die spiere reg ontwikkel nie.

Jy sal verbaas wees hoe baie mense skaam, bang of verleë is om raad en bystand te vra. Maak seker jy vra die mees ingeligte instrukteur of personeellid om raad; dis nie noodwendig die ou met die grootste spiere nie. Onthou die gulde reël: As dit pyn, is dit verkeerd. Jy moet moeg of selfs uitgeput wees ná jou oefensessie, maar nooit seer hê nie.

Doen een of twee sessies saam met ’n persoonlike afrigter

Ken jy die gesegde: ’n Mens is nooit te oud om te leer nie? Wel, dit geld ook vir gimhasies wat gereeld oefen. Dis noodsaaklik om die regte opligtegnieke aan te leer en ook uit te vind wat die beste oefen-volgorde vir die beste resultate is. Om jou liggaam te leer om die verlangde resultaat te verkry is ’n wetenskap. Dis een lewensgebied waarop intuïsie of die nabootsing van ander mense wat oefen, nie goed genoeg is nie. ’n Goeie persoonlike afrigter sal jou van die jongste neigings in gimoefeninge vertel sodat jy nuwe oefenmetodes leer ken. Jy kan hierdeur verskeidenheid by jou oefeprogram inwerk, wat jou gemotiveer en geïnteresseer sal hou. Jy het nie nodig om ’n hele maand saam met ’n persoonlike afrigter deur te bring nie; net ’n paar sessies kan ’n groot verskil maak.

Los die soet energiedrankies

Baie mense maak die fout om drankies wat elektroliete of glukose bevat te drink terwyl hulle oefen, hoewel hul lyf dit nie nodig het nie. Om ’n sportdrankie te drink terwyl jy oefen veroorsaak dat jou bloedsuikervlakke opskiet, en dalk gou weer, selfs tydens jou oefensessie, skielik daal. Dit kan jou duiselig, swak en selfs naar laat voel. Hou by goeie ou water en jy sal jou hidrering maklik bestuur. Dis selfs beter om yskoue water te drink, pleks van water by kamertemperatuur, aangesien jy dan meer dikwels sal drink. Dit sal jou selfs ’n paar ekstra kilojoules help verbrand.

Verleng jou oefensessie met ’n peuselhappie voor die tyd

Jou liggaam verkies om koolhidrate te verbrand, veral omdat die energie uit koolhidrate vinniger vrygestel word en dit maklik beskikbaar is as glukose in die bloed en glikogeen in die spiere. Daarom glo baie mense hulle sal meer vet verbrand as hulle nie voor oefening eet nie, met ander woorde wanneer daar nie baie glikogeen in die liggaam is nie. Hoewel dit waar kan wees, sal jy ongelukkig nie in staat wees om lank of hard genoeg te oefen om ’n beduidende hoeveelheid vet te verbrand nie. Sonder genoegsame glukose in jou bloed en glikogeen in jou spiere om te dien as brandstof terwyl jy oefen, sal jy gou doodmoeg wees en nie jou oefensessie kan klaarmaak nie.

Dis verkieslik om ’n klein peuselhappie voor jou oefensessie te eet, wat lae-glukemiese-indeks-koolhidrate bevat. Lae-GI-koolhidrate kom voor in vrugte (appels, bessies, kersies, druiwe, pere, aarbeie), groente, heelgraanbrood, rys, pasta en ontbytkos. Lae-GI-koolhidrate word stadig in die bloedstroom vrygelaat, wat jou bloedsuiker bestendig hou en jou help om aan te hou hard oefen. Onthou net, hoe meer kalorieë jy eet voor jy oefen, hoe langer duur die spysvertering en hoe stadiger word die energie vrygestel. Hou dus die porsie klein en hou bylae-GI-opsies.

Sit die telefoon . . . neer

Ek is verstom hoe baie mense elektroniese speelgoed saamneem na die gim en daaraan vasklou asof dit ’n oefenhanddoekie is. Hulle is skaars klaar met ’n stel oefeninge of hulle gryp hul foon en lees hul boodskappe of Facebook-profiel. Ek wed jou sommige mense bestee meer tyd in die gimnasium aan hul elektroniese toestelle as aan oefen. Wat is die punt? Behalwe as jy jou foon gebruik vir musiek of as jy duidelike oefendoelwitte het, behoort daar nie tyd te wees vir enigiets behalwe oefen nie. Herinner jou waarom jy by die gimnasium is – om aan daardie pragtige figuur te werk en te ontspan. Fokus meer op jou oefensessie en minder op jou Twitter-nuus.

Elmarie Terblanche

Oor die skrywer
Elmarie Terblanche is in Kaapstad gebore en het in Johannesburg gematrikuleer. Sy het in 1983 as eerstejaarstudent in liggaamsopvoeding na Stellenbosch teruggekeer. In 1991 is sy aangestel as ’n dosent in die afdeling Mediese Fisiologie aan die fakulteit van gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Sy het in 1996 haar doktorsgraad in mediese fisiologie verwerf. In 2004 is sy aangestel as medeprofessor in die departement van sportwetenskap. Sy is bevorder tot ’n professor in 2008. Sy is sedert 2006 die voorsitter van die departement van sportwetenskap. Sy stel belang in navorsing van ’n praktiese aard en kyk na vraagstukke wat van belang is vir atlete van alle vlakke. Elmarie publiseer in nasionaal en internasionaal geakkrediteerde vaktydskrifte. Sy het ’n C3-evaluering van die Nasionale Navorsingstigting.