Bekendes bied steun vir Whitney Houston se dogter

Glansmense bied hul steun en gebede vir Whitney Houston se dogter, wat volgens die owerhede onlangs met haar gesig na onder en bewusteloos in ’n bad in ’n huis in voorstedelike Atlanta gekry is.

Die polisie sê 21-jarige Bobbi Kristina Brown is Saterdag na ’n hospitaal in die voorstad Roswell in noordelike Atlanta, Georgia, geneem.
La Toya Jackson is een van verskeie glansmense wat Sondag op Twitter haar steun uitgespreek het.

“Kom ons stuur almal vir Bobbi Kristina Brown liefde en gebede!” het La Toya getwiet. “Wens haar ’n gesonde en spoedige herstel toe!”

Die sangeres en liedjieskrywer Missy Elliott het ook op Twitter haar steun aan Bobbi Kristina toegesê. “Bid steeds vir Bobbi Kristina,” het Missy deels getwiet.
Bobbi Kristina is die enigste kind van Whitney en die R&B-sanger Bobby Brown.

Lindsey Harber, ’n woordvoerder van die North Fulton-hospitaal, waarheen die polisie sê Whitney se dogter geneem is, wou nie kommentaar lewe nie.
“Ek kan nie eens bevestig dat sy daar is nie,” het Lindsey Sondag gesê.

Kristina se man, Nick Gordon, en ’n vriend het die vrou Saterdag in ’n bad gekry, het die polisie van Roswell in ’n verklaring gesê. Die vriend het die nooddienste gebel terwyl Bobbi Kristina se man kunsmatige asemhaling op haar uitgevoer het, want hulle het nie gedink sy haal asem of het ’n pols nie, het beampte Lisa Holland, ’n woordvoerder van Roswell se polisiedepartement gesê.

Die polisie het Bobbi Kristina ekstra sorg gegee voor sy hospitaal toe geneem is, het Lisa gesê.

Die meenthuis is in ’n subafdeling namby ’n draai in die Chattahoochee-rivier sowat 30 km noordoos van die middestad van Atlanta.

Whitney is op 11 Februarie 2012 dood in ’n bad in ’n hotel in Beverly Hills, Kalifornië, aangetref. Die 48-jarige Whitney het jare lank ’n stryd teen kokaiën, marijuana en pille gevoer en haar gedrag het wisselvallig geraak. Die owerhede wat Whitney se dood ondersoek het, het ’n dosyn voorskrifmedisynehouers in die hotelsuite gekry. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat Whitney per ongeluk verdrink het. Hartsiekte en kokaïen is genoem as bydraende faktore tot Whitney se dood.

In haar loopbaan het Whitney meer as 50 miljoen albums net in Amerika verkoop. Haar stem, ’n ideale mengsel van krag, grasie en skoonheid, het haar liedjies soos “Saving All My Love For You,” “I Will Always Love You,” “The Greatest Love of All” en “I’m Every Woman” klassieke treffers gemaak. Haar ses Grammy’s was maar ’n fraksie van die vele pryse wat sy gewen het.

Whitney het haar hele boedel aan haar dogter bemaak.

 

Is jy ‘n Whitney Houston fan?

  • Ja
  • Nee