Foto’s in hof ontstel Reeva se ma

Ao. Bennie van Staden in die getuiebank. (Foto: Daniel Born/The Times/Sapa)

Ao. Bennie van Staden in die getuiebank. (Foto: Daniel Born/The Times/Sapa)



Een vir een het adv. Gerrie Nel en die polisiefotograaf vanoggend deur die foto’s gegaan wat die dag van Reeva Steenkamp se dood, en die dae daarna, geneem is.

Ao. Bennie van Staden is die staat se tweede getuie van die week.

Bennie is van die polisie se plaaslike kriminele sentrum en was op bystand die oggend toe Oscar Pistorius Reeva in sy huis in die Silver Woods-landgoed in die ooste van Pretoria doodskiet.

Van die foto’s wat gewys is, het so baie bloed gewys dat Oscar net sy kop laat sak en sy oë met sy hande bedek het.

Reeva se ma, June, het selfs in ’n stadium die hof verlaat omdat sy nie meer daarna kon kyk nie.

Bennie het getuig hy het 15 albums met foto’s bymekaargesit. Dié foto’s is van binne en buite die huis, van Reeva se lyk en van Oscar self met bloed op sy prostese.

Met elke foto het Gerrie Bennie gevra wanneer en hoe laat dit geneem is.
Byna al die foto’s is op die skerms in die hof gewys, behalwe dié van Reeva se lyk.

Op van die foto’s was daar bloedspatsels aan die linkerkant van Oscar se bed bo die kopstuk. Dit is ’n hele ent van die badkamer en die gang na die badkamer. Daar was ook bloedspatsels op Oscar se duvet, wat in die kamer gelê het.

- Hilda Fourie