Kos-idees vir kinders met draadjies

charliestunameltquesadilla_landing_0


Draadjies is vir kinders uitdagend genoeg, en by tye vernederend genoeg, sonder dat maaltye nog ’n straf ook moet wees. Hier is ’n paar wenke en kosblik-idees vir kinders met draadjies.

Wenke

  • Vrugte-mengeldrankies en sop is ’n goeie opsie vir die eerste week, of sagte kosse, soos kapokaartappels en avokado’s.
  • Vermy harde kos wanneer jou kind se mond sensitief is weens die draadjies.
  • Namate jou kind se mond minder sensitief raak, sal die hoofbekommernis lastige kosse wees wat pal in hul draadjies vassit. Kies daarom sagte kosse wat maklik met ’n bietjie mondspoelmiddel of flos kan loskom.
  • Hou ’n bietjie mondspoelmiddel of flos byderhand, dan kan jy maklik kosse wat vassit loskry.
  • Vermy harde of taai kosse, soos springmielies, lekkergoed of growwe brode.

Tamatiebredie met ryspasta

  • Genoeg vir 4 mense
  • Bereiding: 15-20 minute
  • Gaarmaaktyd: sowat 1 uur

Jy benodig:

  • 1 kg skaapstowevleis met beentjies
  • sout en peper
  • 125 ml (½ k) meel
  • 40 ml (8 t) olyfolie
  • 1 groot ui, grof gekap
  • 3 wortels, grof gekap
  • 3 selderystingels, grof gekap
  • 1 blik (410 g) gekapte tamaties
  • 250 ml (1 k) water
  • 80 ml (⅓ k) tamatiepasta
  • 15 ml (1 e) sagte bruinsuiker
  • 250 g ryspasta

Maak so:

  1. Geur die stowevleis met die sout en peper en rol elke stuk in die meel. Skud die oortollige meel af.
  2. Verhit van die olie in ’n kastrol en braai die vleis ’n bietjie op ’n slag tot goudbruin en skep uit.
  3. Verhit nog olie en braai die ui, wortel en seldery ’n paar minute.
  4. Plaas die vleis terug in die kastrol, voeg die tamaties, water, tamatiepasta en bruinsuiker by en geur na smaak.
  5. Prut sowat 1 uur of tot die vleis sag is.
  6. Roer die ryspasta by en laat prut tot gaar.

Kaserige tuna-mayo-quesadillas

  • Lewer 4 porsies.

Jy benodig:

  • 8 groot tortillas (Jy kan ook sagte toebroodjies gebruik.)
  • 2 blikke (170 g elk) tuna, gedreineer
  • 80 ml (⅓ k) dik mayonnaise
  • 125 ml (½ k) gerasperde mozzarella
  • 4 agurkies, fyn gekap
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
  • olie vir vlakbraai

Maak so:

  1. Lê vier van die tortillas op ’n werkoppervlak.
  2. Meng die tuna, mayonnaise, mozzarella en agurkies goed.
  3. Geur met die sout en peper na smaak.
  4. Sit die ander vier tortillas bo-op, soos ’n toebroodjie.
  5. Verhit ’n bietjie olie in ’n groot pan tot warm en braai aan albei kante tot goudbruin en bros.
  6. Herhaal met die res.

Avokado

Halveer ’n avokado en vul met ’n smeer gemaak van gevlokte, gerookte snoek of engelvis, gemeng met roomkaas, ’n bietjie mayonnaise, suurlemoensap en sout en peper.

- Mieke Vlok

Bronne: huisgenoot.com, dental.answers.com, superhealthykids.com,  huffingtonpost.com, chicagonow.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.