My soeke na ubuntu



Daar voor in die langpad, hier duskant Ceres in die Koue Bokkeveld, kom ’n spikkeltjie aan. Hoe nader sy aangestap kom, hoe duideliker waaier die bos rooi hare soos vlamme om haar kop uit.

As jy haar nou met die wind in haar ore op haar selfoon sou probeer bel, sal jy hoor: ‘‘Haai, dis Sonja, die Ubuntu-meisie. Ek kan ongelukkig nie die oproep beantwoord nie. Ek doen waarskynlik nou iets interessants saam met iemand interessants op ’n interessante plek in ons pragtige land . . .’’

Sonja Kruse (32) hou ’n kartonbord voor haar uit met “Wupperthal’’ in dik viltpen-letters daarop geskryf. Dis haar volgende bestemming op haar epiese soektog na die werklike betekenis van daardie soms geykte Afrika-woord ubuntu – losweg vertaal, menslikheid teenoor mekaar.

Voor sy in Oktober uit Oos-Londen weg is, het sy ’n T-hemp laat druk met “asifundeni’’ (“laat ons leer”) in hoofletters daarop. Op die hemp het sy ook, in Xhosa, verduidelik waarom sy op reis is: “ ’n Wit vrou wil oor ubuntu leer. Help asseblief.’’

Intussen het sy die hemp vir iemand present gegee. Want eintlik was die verduideliking nie nodig nie – mense het hul huise en harte vir haar oopgemaak op haar pad langs die Wildekus in die Oos-Kaap, deur die Wes-Kaap en tot aan die grens van die Noord-Kaap.

‘‘By geen plek in die land waar ek gaan aanklop, my storie vertel en slaapplek of kos gevra het, is ek weggewys nie,’’ vertel sy.

Sy het al in townshiphuisies in Port Alfred geslaap, in studentehuise in die Baai, in vissershuisies in Paternoster en in HOP- én miljoenêrshuise aan die Langebaan-kus. Sy is nou al alles gewoond: slopemmers, puttoilette, spoeltoilette en soms net ’n plastiek-waskommetjie om die stof van haar lyf te was.

Sy skryf elke dag in haar dagboek en weekliks op haar webjoernaal en die inskrywings gaan vorentoe heel moontlik ’n boek word. ‘‘Ek sal aanhou stap tot ek nie meer ubuntu raakloop nie.’’

Sy volg geen vaste roete nie, maar laat haar lei deur mense se voorstelle. Dikwels word sy met ’n adres na ’n kennis of familielid gestuur waar sy kan oornag.

“Is ek bang? Vir wat? Daar het nog niks slegs met my gebeur nie. Ek weet ná meer as vier maande
op die pad steeds nie waarvoor ek nou eintlik moet bang wees nie. In Suid-Afrika word ons oorweldig deur vrees. Maar daar is ’n lewe hier buite, weg van al die slegte nuus…’’

Lees Sonja se merkwaardige verhaal in die 11 Maart-uitgawe van Huisgenoot.

Vertel ons van jou soektog na ubuntu in die kommentaarveld hieronder. Ons wil graag hoor!

Bespreek vir Skouspel!