Raad vir kleinsake

IMG_8114


Om ’n kleinsakeonderneming suksesvol te bedryf is ’n tawwe toffie, maar met ’n bietjie opoffering, genoeg passie en gehalteprodukte kan jy ’n sukses daarvan maak, sê Anita Labuschagné, die eienaar van Sweet Temptations Toffees.

Wat begin het as ’n stokperdjie om sagte toffie te maak en verkoop in plaaslike markies het gegroei tot ’n suksesvolle onderneming met ’n fabriek op Somerset-Wes en ’n Europese uitvoerkontrak. Suikertande in Brittanje, Pole en Duitsland gaan binnekort ook aan die gourmet-toffies kan smul.

1233343_643480232342710_1093187337_n

Die onderneming is ook in September deur die Africagrowth-instituut aangewys as die beste nuwe kleinsakeonderneming in Afrika.

Wat is Sweet Temptations Toffees se geheim? Hier gee Anita haar kleinbesigheid-wenresep:

  1. Passie! Ek glo in my produkte en geniet wat ek doen. Ek dink passie gee mens daardie ekstra oemf!
  2. Gehalteprodukte en die beste bestanddele. As jy wil sondig met ’n soet dingetjie, moet dit regte room, botter en “couverture” sjokolade bevat.
  3. Wêreldklas-dienslewering. Lewer fantastiese diens en jy sal uitstyg bo die res. Respekteer jou kliënte se mening en luister na hulle behoeftes. Dit help jou dalk nuwe geleenthede raaksien.
  4. Wees innoverend met nuwe geure en produkte, maar hou steeds by jou hoofproduk (in my geval toffie).
  5. Werk saam met hardwerkende mense wat jou passie vir die onderneming deel.
  6. Doen marknavorsing oor jou produk: Wat bestaan reeds en watter leemtes is daar in die mark? As daar reeds ’n soortgelyke produk is, kyk na wat die kompetisie verkeerd doen en verbeter daarop.
  7. Maak seker jy registreer vir alle wetlike aspekte van jou onderneming, byvoorbeeld ’n munisipale lisensies om handel te dryf. En betaal jou belasting!
  8. Terwyl jou onderneming nog sy voete vind, hou jou oorhoofse koste so laag moontlik. Byvoorbeeld, fabrieke is baie duur en dis aanvanklik beter om produkte tuis te vervaardig.
  9. Doelgerigte, aggressiewe bemarking is uiters belangrik. Doen van jou eie bemarking en wees op die uitkyk vir gratis bemarkingsgeleenthede soos kompetisies.
  10. Wees bereid om aan die begin lang ure te werk. Jy sal jouself moet bemark en dien as jou eie boekhouer, ontvangsdame en verspreider.

-Petro-Anne Vlok