Onvrugbaarheid

GerbriFamily


kan bou – net om te besef hul vrugbaarste jare is daarmee heen. En ‘n rits onsuksesvolle swangerskaptoetse en vrugbaarheidsbehandelings laat die spanning net verder ophoop. Kan stres oor onvrugbaarheid uiteindelik tot ‘n mens se onvrugbaarheid bydra? Drie vroue deel hul hartseer – en geluk – in ‘n wêreld waar onvrugbaarheid al meer voorkom.

Deur NICOLA WHITFIELD

Gerbri Schwartz bly vandag by die huis. Sy het vanoggend net te naar gevoel om te gaan werk en nou probeer sy haar stil hou, of dan so stil as wat ‘n mens met twee woelige kleuters kan wees.

Maar vir dié 36-jarige Johannesburgse prokureur is haar naarheid niks minder as ‘n seën nie. Dit beteken sy is swanger. Weer. Ná jare van vergeefse hoop dat sy ooit ‘n baba sou hê.

Net so is die geraas en chaos van die kinders om haar onverdunde vreugde. Dit is ‘n vrolike bevestiging van ‘n gesinslewe met kinders, ‘n voorreg wat sy lank geglo het haar nooit beskore sou wees nie.

Gerbri en haar man, Niel, is een van honderdduisende Suid-Afrikaanse paartjies wat onvrugbaarheid die stryd aangesê het. Hulle het oorwin. In Maart 2005, agt maande nadat hulle besluit het om klein Maia aan te neem, het Gerbri ontdek sy’s swanger met Jasmin.

Maia is nou vier, Jasmin is drie en die nuwe baba – wat sonder mediese ingryping verwek is – word aan die einde van die jaar verwag.

“Dis regtig ‘n wonderwerk,” sê Gerbri. “Wie sou kon dink dat ek drie kinders onder vyf sou hê? Toe ek met Jasmin swanger geraak het, het ek nie eens gedink ek vervaardig eierselle nie. Ek het gedink daar is geen hoop op swangerskap nie. En nou het dit weer gebeur.”

Ons ken almal paartjies wat ná jare se gesukkel om ‘n baba te kry met vakansie gaan om van al die spanning weg te kom en dan swanger terugkom – heel natuurlik. Of ‘n vrou wat nadat sy en haar maat besluit het om “op te hou om daaroor te stress”, skielik swanger raak.

Dan is daar paartjies soos Gerbri en Niel wat uiteindelik besluit om ‘n kind aan te neem en kort daarna hul eie baba kry.

Dis ‘n raaisel wat ‘n mens laat wonder: Maak die stres van onvrugbaarheid en die behandelingsproses dit nie net nog moeiliker om swanger te raak nie?

“Ek weet nie of daar enige waarheid in steek nie,” sê Gerbri. “Maar ek is geneig om te dink dit kan waar wees. Onvrugbaarheid veroorsaak baie spanning en sodra jy die stres uit die weg ruim, skep jy ‘n gunstiger omgewing vir swangerskap.”

Sy en Niel het albei vrugbaarheidsprobleme gehad en moes oor ‘n tydperk van vyf jaar verskeie behandelings verduur en vyf miskrame beleef.

“Dit maak jou gedaan,” sê Gerbri. “Dis iets wat jy so graag wil hê, maar jy het geen beheer daaroor nie. Om swanger te raak, word later ‘n obsessie. Dis soos ‘n dwelm.”

 

 

Ek weet dit maar te goed, sê Tertia Albertyn (40), wat haar lewe gedurende en ná haar onvrugbaarheid met ‘n wêreldwye gehoor gedeel het in ‘n snaakse en skerpsinnige aanlyndagboek, So Close (www.tertia.org).

Ná nege sessies van in vitro-bevrugting (IVB), verskeie miskrame en die hartverskeurende dood van haar seun, Ben (wat tien dae geleef het nadat hy op 26 weke gebore is), het Tertia

uiteindelik vier en ‘n half jaar gelede danksy IVB die lewe geskenk aan ‘n tweeling, Adam en Kate.

“Jy is net nie in staat om op te hou probeer nie,” sê sy. “Mense neem ‘n tweede verband op hul huis uit of pak ekstra werk aan om geld in die hande te kry. Hulle weet die vrugbaarheidsmiddels gaan hulle vet maak en uitgeput en naar laat voel – maar die hoop dat dit miskien dié keer gaan werk, laat hulle aanhou.”

Die eerste stap in vrugbaarheidsbehandeling is om vas te stel by wie die probleem lê. As dit die man is, is die antwoord gewoonlik kunsmatige inseminasie. Maar as dit die vrou is, is dit ingewikkelder.

“Ek was die een met die probleem,” sê Tertia, ‘n inligtingstegnologiedeskundige van Kaapstad. “Ek het polisistiese ovariumsiekte gehad, wat ovulasie beïnvloed. Ek het geen eierselle vervaardig nie.”

Om haar eierstokke te stimuleer om eierselle te vervaardig, het sy die vrugbaarheidsmiddel Clomid geneem. Dit word gewoonlik ‘n paar maande lank van dag drie tot agt van die

menstruele siklus gedrink.

“Ek het verskriklik gevoel,” sê Tertia. “Ek het in ‘n irrasionele, hormonale heks ontaard – en die behandeling het boonop nie gewerk nie.”

Sterker hormooninspuitings moes die situasie dus gereeld van dag twee tot 12 aanhelp. “Ek het geleer om dit self te doen,” sê sy. “Ek het so bedrewe geraak dat ek my kon inspuit

selfs terwyl ek bestuur – ek het net ‘n vetrolletjie op my maag gegryp en laat waai!

“Ek onthou hoe ek my eenkeer in die toilet by ‘n partytjie ingespuit het – ek het ‘n aar raakgesteek en die bloed het by my maag begin uitspuit. Daar staan ek toe en probeer om die bloeding te stop terwyl die ander mense dans en drink. Dit was nie ‘n grap nie!”

Op dag 14 van haar siklus moes Tertia ook ‘n “sneller-inspuiting” kry. “Dit moet plaasvind presies op die tyd wat die spesialis bepaal het omdat jou eierselle dan gereed is om geoes te word,” verduidelik sy.

“Die sneller-inspuiting is binnespiers; dit word op jou sitvlak toegedien en is bitter seer. Ek moes my onwillige man oorreed om dit vir my te doen – óf hy het óf ek moes in die middel van die nag opstaan en kliniek toe gaan.”

Dan was daar die progesteroon-inspuitings nadat die kunsmatig bevrugte eierselle in die liggaam teruggeplaas is. “As die bevrugting suksesvol is, moet jy 10 weke lank hormone neem,” sê Tertia. “Hierdie inspuitings is verskriklik. Die hormoon word met olie gemeng wat klonte onder jou vel maak – ek moes fisioterapie kry om daarvan ontslae te raak. Dit het my puisies gegee, my vel olierig gemaak en my mislik laat voel. Ek het toe begin om die flessies progesteroonolie warm te maak voor ek dit inspuit, maar een keer het ek dit te warm gemaak en my van binne af verbrand. Ek het nog steeds ‘n litteken, ‘n tasbare herinnering aan my onvrugbare tyd.”

Alles was egter die moeite werd toe Adam en Kate gebore is – mooi, gesond en groot vir ‘n tweeling, onderskeidelik 2,9 en 2,6kg. Daarna het Tertia en manlief Marko nog twee IVB-behandelings ondergaan voor hulle besluit het genoeg is genoeg. Dit was toe dat sy heeltemal sonder hulp swanger geraak en in Mei die lewe geskenk het aan klein Max.

“Ek het een van daardie vroue geword na wie mense wys en sê: ‘Kyk wat gebeur as jy net ontspan’,” lag sy.

“Ek was stomgeslaan – ek het gedink my eierselle was onbruikbaar!”

In haar onvrugbare jare het die raad van “ontspan net en laat die natuur sy gang gaan” haar behoorlik die harnas in gejaag. “Jy voel reeds soos ‘n mislukking. Die een ding wat van jou as vrou verwag word – om kinders te kry – gebeur net nie. Die laaste stukkie raad wat jy wil hoor, is dat jy moet ontspan.”

Haar verklaring vir die gelukkige einde is dat haar liggaam “besef het wat van hom verwag word” en die baba toe lank genoeg binne gehou het.

“Maar dink daaraan dat die meeste onvrugbares, soos ons na onsself verwys, nié swanger raak wanneer hulle behandeling staak nie,” sê sy. “Om die waarheid te sê kry net 10 tot 15 persent van alle Suid-Afrikaanse paartjies wat behandeling ondergaan dit reg om natuurlik swanger te raak.”

Tertia se sprokieseinde is dus glad nie algemeen nie.

 

Dr. Paul le Roux, ‘n spesialis in voortplantingsgeneeskunde by die Cape Fertility Clinic in

Kaapstad, stem saam. “Omtrent 15 persent van alle pasiënte raak inderdaad natuurlik swanger nadat hulle IVB gestaak het,” sê hy. “Maar ‘n hoë persentasie van paartjies wat al drie jaar of langer probeer, raak nooit swanger nie. Die probleem is dat ons nie weet wie die

gelukkiges gaan wees nie en ons kan nie net vir hulle sê hulle moet wag en kyk wat gebeur nie.”

Paul sê wel dat stres die hormoon wat eierselgroei stimuleer, kan onderdruk. “Dit ondermyn ovulasie.”

Mandy Rodriguez, ‘n kliniese sielkundige wat in vrugbaarheidsbestuur spesialiseer, het drie keer IVB ondergaan voor haar seun (nou twee) natuurlik verwek is. Mandy bied tans ‘n kursus in stresbeheer aan vir vroue by Medfem, ‘n Johannesburgse vrugbaarheidskliniek

wat deur haar man, Tony, bedryf word.

” ‘n Vrou wat vrugbaarheidsbehandeling kry, gaan elke maand deur ‘n treursiklus as sy besef sy is nie swanger nie,” sê Mandy. “Sy ervaar skok, ongeloof, woede en depressie, en probeer ook onderhandelingstaktiek, net soos iemand wat rou. Maar pleks van uiteindelike

aanvaarding – wat die proses afsluit – gaan sy en haar maat ‘n nuwe siklus van hoop tegemoet wanneer die volgende reeks behandelings begin. Dis ‘n emosionele wipplank.”

Stres maak die proses nog dramatieser omdat die brein meer adrenalien en kortisol afskei. “Dis die slegte streshormone wat die liggaam se immuunstelsel ondermyn en skildklierprobleme, endometrioses en baarmoederprobleme veroorsaak – wat alles op hul

beurt weer ‘n uitwerking op die liggaam het,” verduidelik Mandy.

Vroue met ‘n tipe A-persoonlikheid (ambisieuse, mededingende perfeksioniste wat dit oor die algemeen moeilik vind om te ontspan) ly gewoonlik meer aan stress as hul rustiger eweknieë. Dis dus te verstane dat hulle dikwels vrugbaarheidsprobleme het.

“Die geheim is om jou algehele stres te beheer en dit nie met die kwessie van onvrugbaarheid te verwar nie,” sê Mandy. “Altesaam 90 persent van alle stres is aan

onsself te wyte, soos wanneer ons omgekrap raak oor verkeersknope, sperdatums of luiende telefone.

” ‘n Mens moet maniere vind om 90 persent van jou stres te verminder sodat daar ‘n meer beheerbare 10 persent oorbly. Onthou ook dat daar niks daarmee verkeerd is om gespanne te voel as jy nie swanger raak nie. Dit help dikwels om te weet dat jy nie hoef te stres oor die

feit dat jy stres nie!”

Ontspanningstegnieke soos meditasie kan help. Mandy raai paartjies egter ook aan om voor en gedurende behandeling vir berading te gaan. Die meeste vrugbaarheidsklinieke het hul eie terapeute en spesialiste wat beskikbaar is vir deurlopende berading.

Jy kan ook jou eie vermoë om dinge te hanteer aanhelp deur meer van die behandelingsproses te wete te kom nog voor jy daarmee begin. Hoe meer jy van die proses weet, hoe makliker sal jy dit emosioneel hanteer,” sê sy.

 

“Hoe slaag ‘n mens daarin om op te hou stres oor die moontlikheid dat jy miskien nooit daardie één ding gaan kry wat jy die meeste begeer nie?”

Dit was Helena Wasserman se antwoord aan mense wat haar neus daarin gevryf het dat sy sou swanger word as sy tog net kon ontspan.

Sy en haar man, Herman, kom uit groot gesinne en het aanvaar dit sou geen probleem wees om self kinders te hê nie.

“Maar kort nadat ek swanger wou begin raak, is polisistiese ovariumsiekte by my gediagnoseer,” sê Helena, ‘n Kaapstadse joernalis wat tans in Engeland bly. Oor ‘n

tydperk van ses jaar het sy twee kunsmatige bevrugtings, agt rondes IVB en een ektopiese swangerskap beleef.

“Die hormone, die inspuitings, die pyn en ongemak, die gedurige ondersoeke en die gewag op nóg ‘n slegtenuussonar in wagkamers waar almal oogkontak vermy was die maklike deel,” onthou sy. “Die ander dinge was veel erger. Ek het skuldig gevoel dat ek nie aan my man ‘n kind kon gee nie en dat hy so ‘n uitmergelende ervaring moes deurmaak. Ek was oorweldig deur skaamte en depressie. My liggaam was ‘n begraafplaas vir embrio’s.”

Helena en Herman het uiteindelik besluit om met ‘n aannemingsproses te begin. Toe bied iemand na aan hulle aan om surrogaatma vir die paartjie te wees.

“Maar ons moes ‘n paar weke wag voor ons kon begin en besluit toe om vir oulaas

IVB te beproef. Toe ek die oproep kry om te sê ek is swanger, was dit werklik ‘n geestelike ervaring.”

Agttien maande nadat Lukas (nou drie) gebore is, het hulle besluit om ‘n laaste IVB te laat doen voor hulle sou probeer aanneem. Weer het dit gewerk en nege maande later is Daniel (nou een) gebore.

Toe gebeur daar iets nog meer ongeloofliks: Helena raak swanger met ‘n derde baba – sonder mediese hulp.

“Het ek swanger geraak omdat ek ontspan het? Miskien,” peins Helena. “Ek dink stres het in my geval beslis ‘n rol gespeel. Maar as ek terugkyk, kan ek net herhaal wat ek deur al die jare van probeer gesê het: As jou verlange na ‘n kind alles oorheers, is dit onmoontlik om te ontspan.”

Asof die spanning van onvrugbaarheid en vrugbaarheidsbehandeling nie genoeg is nie, word ‘n mens se stresvlak verder opgejaag deur die spoed waarteen geld uit jou beursie vloei.

Clomid kos sowat R200 per maand, maar as dit nie werk nie, kos vrugbaarheidsbehandeling jou ‘n klein fortuin.

Die narkose wat nodig is vir ‘n laparoskopie om te kyk of ‘n vrou se buise verstop is en of sy endometriose het, kos in die omgewing van R5 000. Party mediese fondse betaal gelukkig ‘n deel hiervan.

Kunsmatige inseminasie kos R3 000 ‘n keer en IVB enigiets vanaf R28 000 per maand. Hiervoor betaal mediese skemas nie ‘n sent nie.

Volgens die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing het ‘n verstommende een uit elke ses Suid-Afrikaanse paartjies vrugbaarheidsprobleme wat ernstig genoeg is om behandeling te noodsaak.

“Daar’s baie oorsake, maar die feit dat ál meer moderne vroue eers ‘n loopbaan wil vestig voor hulle met ‘n gesin wegspring, is ‘n belangrike faktor. Hoe langer jy wag, hoe groter is die kans dat jy gaan sukkel om swanger te raak,” sê dr. Merwyn Jacobson, ‘n spesialis in voortplantingsgeneeskunde en een van die stigters van Johannesburg se Vitalab-vrugbaarheidsentrum.

Dis ‘n feit dat ‘n vrou se vrugbaarheid ná 34 begin afneem. IVB is ook aansienlik minder suksesvol by vroue ouer as 28, sê Paul.

‘n Studie wat vroeër vanjaar in die British Medical Journal verskyn het, het bevind dat terwyl vroue tot op 25 ‘n swangerskapskans van 60 persent binne ses maande en 85 persent binne ‘n jaar het, daal dié syfers op 35 met meer as die helfte. Mans se vrugbaarheid daal ook

skerp – ‘n man ouer as 35 het net die helfte van die kans om ‘n baba te verwek as een van 25.

Behalwe ouderdom is daar ook leefstylfaktore. Ernstige oorgewig, eetversteurings en oormatige gebruik van alkohol, sigarette en kafeïen kan vrugbaarheid in sowel mans as vroue beïnvloed, sê Paul.

Onvrugbaarheid by mans is ook aan die toeneem omdat faktore soos lood in ons besoedelde atmosfeer, estrogeen in vleis en die estrogeenverhogende uitwerking van party plastiekstowwe die gehalte van spermselle aantas.

Wat ook al jou ouderdom, hoe lank behoort jy aan te hou met die natuurlike benadering tot swangerskap? En wanneer moet jy hulp kry?

“As jy ‘n probleem het soos pynlike omgang, ongereelde maandstondes of ‘n geskiedenis van bekkeninfeksie is daar geen rede om te wag nie,” sê Merwyn.

” ‘n Jaar is ‘n billike tydperk vir ‘n normale, gesonde vrou jonger as 35. Maar as jy ouer as 35 is en binne ses maande nog nie swanger geraak het nie, is dit tyd om hulp te soek.”

En wanneer moet jy besluit om vrugbaarheidsbehandeling te staak? Dit hang baie van die pasiënt af, sê hy. ” ‘n Vrou van 32 met normale hormone, ‘n maat met gesonde spermselle en ‘n oplosbare probleem soos verstopte buise moet aanhou probeer so lank sy dit kan uithou of bekostig.”

‘n Vrou van oor die 40 met hormoonprobleme en ‘n ouer maat sal ná verskeie mislukte IVB-pogings moontlik moet aanvaar dit gaan nie werk nie.

Maar dis nie maklik om te aanvaar jy gaan nie jou belangrikste biologiese droom verwesenlik nie – amper net so moeilik as wat dit is om te ontspan terwyl jy daar probeer uitkom. ‘n Mens wil altyd nog een keer probeer. Daar is altyd die vraag: “Wat gebeur as…?” Of: “Wat van volgende keer? Miskien is ons gelukkig…”

Die enigste manier om dit te beantwoord is om aan te hou probeer. En miskien is dit juis deel van die probleem.