Boek: Diereplesiere & Dierefamilies – Brenda Apsley

boek-diere


In hierdie twee boeke word die jong leser primêr deur die visuele aan die wêreld van diere voorgestel. Hulle werk met die wenkombinasie van groot kleurfoto’s, humor en interaktiewe funksies soos ’n wiel wat gedraai kan word om verskillende prentjies te onthul en sodoende assosiasie te bemeester. 

Die eenvoudige teks sluit ’n menigte vrae, getalle en geluide in wat verder bydra tot ’n volronde opvoedkundige ervaring.

Terwyl jy vir jou klein tjies voorlees, kan jy hulle aanmoedig om die bladsy te blaai. Die dik bladsye met ’n beskermende laag is ideaal vir klein handjies. Selfs die grootte van die boek neem die jong leser in ag; hulle sal dit maklik kan vashou en blaai.

In Dierefamilies is daar op elke tweede bladsy ’n groot foto van ’n babadiertjie, en wanneer die bladsy “oopgeblaai” word, onthul dit die diertjie tussen sy familie.

So kan klein lesers hulle identifiseer met hul posisie in die gesin. Daar word telkens verwys na groot en klein, kort en lank; dus word hulle bewus van teenoorgesteldes en leer hulle om te vergelyk.

Hierdie boeke sal ure se genot verskaf wanneer kinders geprys word omdat hulle ’n dier korrek kon identifiseer en dit later ook buite die boek regkry wanneer hulle ’n insek in die tuin raakloop of ’n troeteldier by ’n maatjie se huis gewaar.

Volg Huisgenoot op Twitter.