Anderkant die spoor

Mariël le Roux afgeneem deur Michael Hammond

Mariël le Roux afgeneem deur Michael Hammond



Klara se sorgelose lewe op Boplaas kom tot ’n einde toe haar voorman-pa onder ’n trekker se wiele sterf. Hulle moet na die wit lokasie op die dorp trek, waar Klara haar ma, wat die kluts heel kwytgeraak het, tesame met haar jonger susters moet versorg. Haar planne om verder te gaan leer is dus daarmee heen en so ook haar verhouding met die ryk boer se oudste seun.

Ons het met die skrywer Mariël le Roux gesels oor Klara, haar derde roman:

In watter era speel die verhaal af?

Ek het my storie aanvanklik met ’n datum begin. Ek het dit weggeneem nadat ek weer ’n  slag gaan ry het deur die woonbuurt op ’n Bolandse dorp wat ons in die 50’s en 60’s die Witlokasie genoem het. Niks daar het verander nie. Ek het besef ek hoef nie die invloed van armoede in ’n tydvak af te baken nie. Die werklikheid van swaarkry is nog net so brutaal, so sigbaar soos toe. Al wat nou aangepas moet word, is die “wit” van die Witlokasie.

Die strook teer in die straat waar die Du Toits ná Giel se dood gaan intrek het, is nou baie smaller, weerskante oorgeneem deur onkruid. Daar is steeds honde op lyn geslaan, kinders wat kaalvoet in die witgerypte grassies onderlangs vir die motor kyk wat stadig by hul huise verbyry en stram waai vir die tannie wat skelm ’n foto’tjie neem.

Hoe ken jy die wêreld van die armblanke so goed, veral die growwe taal?

Ons het almal eenders gelyk op skool. Almal was wit. Almal het dieselfde klere skool toe gedra, maar ons stories het verskil. Veral ná naweke, wanneer baie van die kinders van onderkant die spoor verinneweer by die skool se hekke ingestap het. Ek is van kleintyd af nuuskierig – ek het uitgevra.

Ek onthou veral een meisiekind wat in die laerskool ’n jaar lank langs my gesit het. Minstens een of twee keer per week het ek vervaard opgespring van ons holgesitte planksitplek, ons albei se boude sopnat. Sy het bietjie-bietjie vertel, maar ek kan nie onthou dat daar ooit iets vir haar gedoen is nie. Dit was ’n ander tyd, meer onbetrokke, dink ek.

Op die plaas waar ek grootgeword het, was die kinders oorkant die groot sloot naweke ons pelle. Ook hulle het stories uitgeblaker, met kleur en geur. In fyn detail het ons dinge geleer wat ons andersins seker nooit sou geweet het nie.

Toe my loopbaan my 25 jaar lank in staatshospitale se kraamsale saam met my studente inskuif, het ek ’n ander kant, dikwels ’n donker kant, van die lewe ervaar. Saam met die swanger meisiekind het gewoonlik die ma en soms die res van die gesin by die saal se deur ingestap. Ek het by hulle geleer hoe die lewe anderkant die spoor lyk, maar ek het ook by hulle geleer wat deernis beteken.

Die heldin, Klara, moet darem baie opofferings maak. Was dit ’n tipiese ver­skynsel van daardie tyd dat die oudste haar eie lewe opsy moet skuif om die gesin te versorg?

Ja, ’n paar dekades gelede toe loopbane vir vroue nog ’n vreemde ding was en die dogters by die huis gaan wag het dat hul ridders opdaag, was dit heel dikwels die oudste dogter wat met die las van die versorging van haar ouers daarvan afgekom het.

Klara kos R146 by Kalahari.com