Moeg, naar, hare wat uitval?

skildklier


Voel jy heeltyd vet, suf en gedaan? Dan ly jy dalk aan ’n onderaktiewe skildklier.

Die 10 belangrikste aanduidings van skildklierprobleme:

Spier- en gewrigpyne
Pyne in jou spiere en gewrigte, swakheid in jou arms en ‘’n geneigdheid tot karpaaltonnel-sindroom in die arms, hande of bene.

Nekongemak of –swelsel
‘n Gevoel dat jou nek geswel is, of ongemak as jy iets met ‘’n hoë kraag dra, ‘n heserige stem en ‘n sigbaar vergrote skildklier.
Veranderinge aan jou hare of vel
‘n Onderaktiewe skildklier kan jou hare dalk bros, grof en droog maak en maklik laat afbreek of uitval.

‘n Algemene simptoom is hare wat aan die buitekante van die wenkbroue uitval.

Jou vel kan grof, dik, en skubberig voorkom.

Met ‘n ooraktiewe skildklier kan jy kwaai haarverlies ervaar en jou vel bros en dun raak.

Ingewandsprobleme
Ernstige of langtermyn-hardlywigheid word met ‘n onderaktiewe skildklier verbind, terwyl diarree of prikkelbarederm-sindroom aan ‘n ooraktiewe skildklier toegeskryf kan word.
Menstruele afwykings en vrugbaarheidsprobleme
Swaarder, meer gereelde en pynliker maandstondes word dikwels met ‘n onderaktiewe skildklier verbind en korter, ligter en ongereelde menstruasie met ‘n ooraktiewe skildklier.

Familiegeskiedenis
‘n Familiegeskiedenis van skidklierprobleme verhoog jou eie risiko.

Cholestrolkwessies
Hoë cholestrol kan op ‘n onderaktiewe skildklier dui, en onnatuurlik lae cholestrolvlakke op ‘n ooraktiewe skildklier.

Depressie en angstigheid
‘n Onderaktiewe skildklier is dikwels verantwoordelik vir depressie, terwyl angstigheid of paniekaanvalle tipies van ‘n ooraktiewe skildklier is.

Gewingsverandering
As jy sukkel om gewig te verloor al probeer jy hoe hard, kan jou skildklier onderaktief wees. As jy gewig verloor terwyl jy normaal eet, kan dit op ‘n ooraktiewe skildklier dui.

Moegheid
As jy altyd moeg voel wanneer jy wakker word, of voel dat agt tot 10 uur slaap snags nie genoeg is nie, of jy kan nie deur die dag kom sonder om ‘n uiltjie te knip nie, kan dit ‘n skildklierprobleem wees.

Soos met alle siektes kan die simptome verskil, maar as jy enige van bogenoemde sowat ‘n jaar lank ondervind, vra jou dokter om ‘n eenvoudige bloedtoets te doen.

Lees die volledige artikel oor jou skildklier in Huisgenoot Pols Lente 2010 – nou op die rakke!