Skouspel: ’n Glansgeleentheid soos min

IMG_9175


Vanjaar is Skouspel meer spoggerig as ooit. Nie net is die heel beste Afrikaanse sangers daar nie, maar daar is is ook ’n rits top Suid-Afrikaanse modeontwerpers wat hul nuutste ontwerpe sal ten toon stel.

Skouspel-naweke het al die elemente van die volmaakte wegkomkans: ’n opwindende plek vol avontuur, onvergeetlike musiek en vermaak om die hele gesin besig te hou. Vanjaar kan jy uitsien na selfs meer, met die Shoprite Checkers Championship-boereworskompetisie, Clover-kompetisies en pryse en ’n bykomende vertoning deur die Campbells. Hier is net ’n paar van die hoogtepunte waarna jy kan uitsien.

Huisgenoot-Tempo en die Skouspel-programtydskrif

Elke kunstenaar wat by Huisgenoot-Skouspel optree, word spesiaal uitgesoek. As aandenking van vanjaar se Skouspel gee ons ’n Skouspel-programtydskrif uit wat saam met Huisgenoot-Tempo by Skouspel te koop sal wees. Hierin is splinternuwe foto’s van elke kunstenaar en ons gee jou ook ’n kykie in die binnewerke van hierdie unieke produksie. Die program is ’n pragbêrestuk wat op duursame glanspapier gedruk word en sal saam met Huisgenoot-Tempo teen R50 verkoop word.

Skouspel-Vrouedag

Vanjaar se Skouspel-Vrouedag, aangebied deur Virseker, het lekker baie bederf. Die sanger Nianell praat met die Huisgenoot-Tempo-redakteur, Wicus Pretorius, oor haar nuwe boek, Om Te Weet Wie Ek Is, en sy en Jak de Priester sing van hul gewildste liedjies. Revlon is ook die oggend daar om vir vroue ’n mini-mooimaaksessie te gee. Elke vrou gaan huis toe met ’n bederfpakkie en die nuutste Huisgenoot-Mooi.

Die oggend begin om 09:00 en sluit ligte happies, tee en koffie in – die volmaakte manier om jou Saterdagoggend deur te bring terwyl die res van die gesin die vermaak by Valley of the Waves geniet. Kaartjies is beskikbaar by Computicket teen R200 elk en Nianell se boek sal teen ’n spesiale prys verkoop word.

Beachy-aanbod vir dagbesoekers

Kom kyk hoe kroon Shoprite Checkers die Championship-boereworskoning van 2011 by die Valley of Waves op Saterdag 8 Oktober. Of kom deel in die vermaak wat Clover verskaf op Saterdag 15 Oktober deur gebruik te maak van ons spesiale Beachy-aanbod vir dagbesoekers aan Skouspel.

Die kaartjie gee jou toegang tot die Valley of the Waves, al die aktiwiteite en kompetisies en jy kry ’n gratis hamburger of hoenderburger, skyfies en koeldrank. Wees op die uitkyk vir Huisgenoot se lesersentrum by die Monkey Spring Plaza waar jy CD’s, tydskrifte en unieke lesersaanbiedinge kry.

Die pret begin om 09:00 en die hekke sluit weer om 18:00.

Jy kan vir enige van die dae tydens die Skouspel-naweke dagbesoekerkaartjies koop: 8 of 9 Oktober en 15 of 16 Oktober.  Kaartijes kos R160 elk en is beskikbaar by Computicket onder “Skouspel Beachy-aanbod”.  Kaartjies moet vooraf by Computicket afgehaal word om gebruik te maak van die aanbod.

Van Skouspel na Aardklop

Ons weet dis net die beste kunstenaars wat by Skouspel optree en dat hulle nie graag hul aanhangers wil teleurstel nie, daarom maak ons seker dat hulle ook by Aardklop is vir die enigste Huisgenoot-konsert by Aardklop vanjaar – Treffer na Treffer. Ons laat vlieg die kunstenaars spesiaal na Potchefstroom vir hierdie vertoning. As jy dus vanjaar by Aardklop is, is dit die een kaartjie wat jy moet kry.

Die vertoning vind op Donderdag 6 Oktober by die Clover-musiekarena plaas. Dit begin om 18:00, hou aan tot laat en kaartjies is beskikbaar by Computicket teen R125 vir bespreekte plekke en R95 vir onbespreekte sitplekke.

Borge

Skouspel word weer ondersteun deur ’n getroue span borge. Checkers, Clover, Sun City, kykNET en Computicket kry egter vanjaar ’n nuwe maat in die span: Virseker. Hulle borg ook Skouspel-vrouedag, SkouspelPlus 2012, die Huisgenoot-Tempotoekennings en Huisgenoot-Tempo-liedjieskryfkompetisie.

 

Tien dubbelkaartjies vir ons Skouspel-vertoning op Saterdag, 15 Oktober om 13:00 is op die spel. SMS die woord SKOUSPEL gevolg deur jou naam en van na 34922 nie later nie as 5 Oktober 17:00. Elke SMS kos R1,50. Wenners is verantwoordelik vir hul eie vervoer. Die borg sal die wenners kontak.