Lamsfynvleis-pastei

gevriesde kos


Genoeg vir 8-10 mense
Bereiding: 15 min
Gaarmaaktyd: 2¼ uur 

Bestanddele

2 kg lamstowevleis of lieslappe, in stukke gesny

sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

koekmeel

olie

6 repies bladspek, fyner gekap

6 knoffelhuisies, gekneus

12-15 piekeluie, geskil

500-750 ml (2-3 k) rooiwyn

500 ml (2 k) vleisaftreksel

45-60 ml (3-4 e) vars gekapte kruie soos pietersielie, roosmaryn en tiemie

1 rol (400 g) skilferkorsdeeg, ontdooi

eiergeel-en-melk-mengsel

Geur die vleis met sout en peper, besprinkel ligweg met koekmeel en braai bietjie vir bietjie in ’n bietjie verhitte olie tot bruin buite om. Skep uit en hou eenkant.

Braai die bladspek saam met die knoffelhuisies en piekeluie tot bruin. Voeg die vleis weer by, asook die rooiwyn, aftreksel en kruie.

Bring tot kookpunt, verlaag dan die hitte, bedek en laat prut sowat 2 uur tot die vleis sag is. Verwyder die senings en van die grootste bene indien verkies.

Skep die fynvleis in pasteibakke en laat afkoel. Bedek met die skilferkorsdeeg, maak ’n paar gaatjies in die deeg (waar die stoom kan ontsnap), sny patroontjies uit die orige deeg en plak vas met die eiergeel-enmelk-mengsel.

Voorverhit die oond tot 190 °C en bak die pastei ongeveer 30-40 minute of tot die vulsel goed warm en die pasteideeg goudbruin is.

Wenke:

  • Vervang 1,5 kg van die stowevleis met wildsvleis.
  • Vleis is duur – koop dus eerder in groot maat, soos ’n halwe lam, bewerk en bevries dit.
  • Moenie enige produkte met ’n kors – soos filodeeg, bros- of skilferkors – in die mikrogolfoond ontdooi nie, want die deeg word pap.