Resep van die week: Geroosterde-tamatie-en-rooi-ui-tertjies

Sept_-_Geroosterde


Die voorbereiding is 10 minute en gaarmaaktyd is 1 uur.
Bestanddele: 1 rol (400 g) skilferkorsdeeg; 1-2 rooi uie, in ringe gesny;
botter en olyfolie; seesout; 500 g kersietamaties; 3-4 knoffelhuisies in hul skil; 250 ml (1 k) witwyn; sout en peper na smaak; 1-2 takkies vars roosmaryn; ’n paar skeppe bokmelkkaas of parmesaankaasskaafsels.

Metode: Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer 6 holtes van ’n diep muffin-pan of spuit met kleefwerende sproei. Rol die deeg dunner uit en voer die holtes van die muffinpan daarmee uit. Bak 25-30 minute of tot gaar. Verwyder uit die oond en hou eenkant. Roerbraai intussen die uie effe in verhitte olie en botter. Verlaag die hitte tot baie laag, sit die deksel op en “sweet’’ sowat 30 minute tot die uie sag is, maar nie verkleur het nie. Sprinkel seesout oor. Pak die kersietamaties op ’n bakplaat, voeg die knoffel, wyn, sout, peper en roosmaryn by en verhit tot die tamaties net effe van kleur verander. Haal uit die oond, verwyder die knoffelskille en kruietakkies. Meng die tamaties met die uie en skep in die gebakte tertdoppies. Strooi kaas bo-oor indien verkies.